Beurs open deure vir presteerder

Hawston Sekondêr se toppresteerder, Kay-Ree Julies, se studies het ’n hupstoot gekry toe sy ’n beurs van die Akeelah-stigting ontvang het.


Hawston Sekondêr se toppresteerder, Kay-Ree Julies, se studies het ’n hupstoot gekry toe sy ’n beurs van die Akeelah-stigting ontvang het.

Dr. Natasha Ross, ’n bekroonde wetenskaplike en stigter van die Akeelah-stigting, het Hawston onlangs besoek om die beurs aan die belowende jong student te oorhandig.

Ross, wat in Hawston grootgeword het en tans ’n senior chemie-lektor by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) is, sê die stigting se missie en visie is “die opvoedkundige vooruitgang van meisies in minderbevoorregte gemeenskappe” wat uitblink in wiskunde en die wetenskappe. Sy voeg by: “Ons het ’n nood buite die riglyne van ons visie identifiseer.”

Die stigting glo ook dat opvoeding nie net ’n vrou bemagtig om haar eie lewe te verbeter nie, maar ook die lewe van mense rondom haar, wat haar familie, vriende en die gemeenskap waarin sy woon, insluit.

Volgens Ross het die organisasie daarom besluit om die beurs aan Kay-Ree toe te ken omdat sy uitgestaan het as ’n leerder wat voortdurend hard werk om bo haar moeilike omstandighede uit te styg.

“Ons is so trots op haar en opgewonde oor haar toekoms. Die Akeelah-stigting gaan as mentors ’n pad met haar stap om seker te maak sy behaal groot sukses,” het sy bygevoeg.

Kay-Ree, wat tans aan die Universiteit Stellenbosch studeer en daarvan droom om ’n maatskaplike werker te word, sê sy is “baie dankbaar” vir die ekstra finansiering wat sy sal gebruik om die nodige handleidings en ander benodigdhede vir haar studies te koop.

“Dit maak die las op my ma ’n bietjie ligter, want ek het nog twee jonger broers,” sê Kay-Ree.

Die mentorskap, wat saam met die beurs aangebied word, sê Kay-Ree, is ook baie belangrik. “Dit stel my gerus en laat my lekker voel om te weet ek het iemand wat my kan help en my sal mentor.”

Volgens Ross is die Akeelah-stigting op ’n missie om jong vroue deur mentorskap, finansiering en ontwikkelingsprogramme te help om hul opvoedkundige en loopbaandoelwitte te bereik. “Ons hoop om elke haar ’n jong vrou in die gemeenskap te kan help en verwelkom enige finansiële bystand/skenkings om sodoende meer meisies te kan ondersteun,” sê Ross.. Enigeen wat ’n bydrae tot die Akeelah-stigting wil lewer, kan Ross per e-pos by nross@uwc.ac.za kontak.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.