Net soos skole, huishoudings en sakeondernemings onder die ergste beurtkragskedules nog gebuk gaan, steier provinsiale hospitale en selfs klinieke ook onder dié probleem, wat lyk of dit geen einde het.
Die Overberg beskik oor vier provinsiale hospitale, 19 klinieke, een daghospitaal en 25 mobiele en satelliet-klinieke, en die personeel en selfs pasiënte sit soms met die hande in die hare as beurtkrag toeslaan.
Veral die Caledon-hospitaal word tans die swaarste getref. “Die kragonderbrekings beïnvloed die pomp van water van die dam na die reservoirs in die dorp, en dit beïnvloed weer die watertoevoer na die hospitaal,” sê Roché Butler, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement in die Overberg-distrik.
Volgens Butler is die waterdruk en gebrek aan water by die Caledon-hospitaal die grootste struikelblok.
“Dit is ongerieflik en ’n moeilike probleem om op te los. Van tyd tot tyd gaan die rekenaars af en werk gaan verlore, maar dit gebeur darem nie gereeld nie. Sommige administratiewe stelsels is ook stadiger – elektrisiteit word dan na noodgebiede herlei.”
Sy sê alle hospitale en van die groter klinieke het kragopwekkers wat binne sekondes inskakel.
“Instandhoudingspersoneel monitor die werking van hierdie kragopwekkers en verseker dat dieselvlakke te alle tye konstant is,” sê sy. “Ons kyk ook na omskakelaars vir klinieke.”
Die Wes-Kaapse minister van gesondheid, dr. Nomafrench Mbombo, het einde September haar kommer uitgespreek oor die feit dat dr. Joe Phaala, die minister van gesondheid, nie hospitale in die Wes-Kaap vir vrystelling van beurtkrag oorweeg nie.
Volgens Netwerk24 het Mbombo gesê die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement is besig om van die Covid-19-pandemie te herstel, maar word nou deur die beurtkrag-pandemie geteister.
Sy het ’n lys met 19 hospitale (waaronder die Caledon-hospitaal) verskaf met die versoek dat dié hospitale van beurtkrag vrygestel word. Vyf daarvan is reeds van beurtkrag vrygestel en op 7 Oktober is nog vyf van beurtkrag vrygestel, maar die hospitale in die Overberg-distrik is nie een daarvan nie.
Intussen is die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, volgens berigte ook tans op ’n missie om te verseker dat alle akute hospitale vrygestel word van kragonderbrekings, terwyl die provinsiale departement van gesondheid ook besig is om met Eskom ’n ooreenkoms te vind om alle hospitale in die Wes-Kaap teen beurtkrag te beskerm.