AfriForum se teenboelieveldtogspan reis landwyd na skole vir bewusmaking oor boeliegedrag.


AfriForum doen ’n beroep op ouers, skole en onderwysers om groter klem te plaas op die bewusmaking van boeliegedrag en die gevolge daarvan ten einde dié soort gedrag stop te sit.

Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat Wes-Kaapse skole gebuk gaan onder boeliegedrag, waarvan skokvideo’s oor die land heen versprei word.

Boeliegedrag het ’n diepgaande negatiewe uitwerking op kinders se emosionele en fisieke welstand. Dit lei gewoonlik tot angs, depressie en selfs gedagtes oor selfdood. Dit is noodsaaklik dat skole ’n veilige leeromgewing vir alle leerders moet skep waar leerders gerespekteer en beskerm word.

AfriForum se teenboelieveldtogspan reis landwyd na skole om bewusmaking oor boeliegedrag en die gevolge daarvan deur middel van opvoedkundige sessies, hulpmiddels en praktiese strategieë te skep, wat leerders en onderwysers sal help om boeliegedrag stop te sit.

“Ons moedig skole en ouers aan om proaktief op te tree, boeliegedrag te herken en toepaslike stappe te doen om dit stop te sit,” sê Tania Scheepers, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die noordstreek.

“Dit is ook belangrik dat ouers en onderwysers bewus is van die gevare van kuberboeliery en hoe om leerders daarteen te beskerm.”

You need to be Logged In to leave a comment.