Nasionale Biblioteekweek is vanjaar van 17 tot 23 Maart gevier (Hermanus Times, 19 Maart 2025, “Bib-week in Overberg gevier”).
Die Caledon-biblioteek het ‘n vol en interessante program tydens Biblioteekweek aangebied. Die program het Maandag 17 Maart in Vleiview begin met gemeenskapsbewusmaking van biblioteekweek. Biblioteeksakke en boekmerke is uitgedeel en die publiek is opnuut bewus gemaak van al die dienste wat die Caledon-biblioteek bied.
‘n Skattejag in die biblioteek is Dinsdag vir die Ladies en Laaities-speelskool aangebied. Die jong leerders het dit terdeë geniet. Woensdag het Werner Swart van die Overberg-onderwysdistrik (kurrikulêre ondersteuning) in die lig van Menseregtedag op 21 Maart vir die gr.3-leerders van Klein Ovies van hul regte vertel. Dit was ‘n baie interaktiewe sessie met vrae en antwoorde en Swart het die kinders op sy kenmerkende manier laat skater van die lag.
Biblioteekweek is Donderdag afgesluit toe Swartberg Primêr se 120 gr. R-leerders met storievertelling vermaak is. Edna Vashu, ‘n oudonderwyser van Swartberg Primêr, het die kleintjies in die holte van haar hand gehad met haar vertelling van “Die 12 klompies”. Nie net het Vashu aan die kinders ‘n paar ware houtklompe gewys nie, maar hulle ook aktief aan die storie laat deelneem.
Al die ander Theewaterskloof-biblioteke het ook interessante programme tydens biblioteekweek aangebied.
