Biblioteke in die Overberg is meer as net plek om boeke uit te neem

Is jy op soek na ’n lekker boek om te lees? Of het jy hulp nodig met die opstel van jou CV? Of wil jy dalk tussen afsprake rustig deur ’n tydskrif blaai?.


Is jy op soek na ’n lekker boek om te lees? Of het jy hulp nodig met die opstel van jou CV? Of wil jy dalk tussen afsprake rustig deur ’n tydskrif blaai?

Dan is die Caledon-biblioteek net die plek vir jou, want dié biblioteek met sy vriendelike en behulpsame personeel bied soveel meer as net leesboeke.

Hermanus Times het met die bibliotekaris Gerhard van Wyk gesels oor die verskeidenheid dienste wat die biblioteek aanbied. “Buiten boeke bied ons verskeie interne dienste aan ons kliënte. Dit sluit rekenaardienste in waar mense hul CV’s gratis kan kom tik. Hulle betaal net vir die drukwerk. Ons help graag, maar moedig mense aan om self agter die rekenaar te gaan sit sodat ons hulle ook rekenaargeletterd kan kry,” sê Van Wyk.

Die biblioteek bied een keer per week basiese rekenaarklasse aan, waarvoor mense moet registreer. Van Wyk sê hulle moedig veral jong mense aan om dit by te woon. Verder help hulle eerste aansoekers om ’n Sars-nommer en ’n tydelike sertifikaat aanlyn te bekom en bied ook hulp aan met die aansoek en registrasie vir werkloosheidsvoordele (UIF). Vir albei is ’n werkende selfoon nodig. Die biblioteek bied ook ’n skandeer-na-e-pos- en fotostaatdiens aan.

Die biblioteek neem elke twee weke boeke na Heidehof-tehuis vir bejaardes asook na die Protea Dienssentrum en Oase-dienssentrum. ’n Kort, prettige boekvoorlesing word een keer per maand by die Protea Dienssentrum aangebied.

Die biblioteek is baie by plaaslike skole betrokke – nie net met literêre programme soos die onlangse hardoplees-dag nie, maar ook met bewusmakingsprogramme soos “Stand up to Bullying Day”, waar hulle dié belangrike boodskap duidelik wil oordra in samewerking met die departement van maatskaplike ontwikkeling.

’n Weeklikse “Word works-program” word by Boontjieskraal Primêr aangebied om leerders deur middel van voorlesings met spelling en woordbou te help.

“Baie mense weet nie spesiale dae soos byvoorbeeld die “Stand up to Bullying Day” bestaan nie, en daarom gaan ons uit om bewusmaking te skep,” sê Van Wyk. “Ons kies ook ander dae, soos Borskankerbewusmakings­dag, waarby ons dink ons gemeenskap kan baat vind en wat vir die gemeenskap tot voordeel gaan wees om die nodige inligting te bekom. Hierdie programme word gewoonlik by die biblioteek met verskeie gassprekers aangebied. Dit is vir ons baie belangrik dat mense ingelig en opgevoed word,” sê Van Wyk.

Vir lesers wat nie tyd het om die biblioteek te besoek nie, is die Libby-toepassing, ’n digitale toepassing waarop jy boeke kan uitneem en lees, ideaal. Van Wyk noem dat baie lesers nie meer fisiek biblioteek toe kom nie omdat hulle op hierdie platform ingeskakel is. “Om die Libby-toepassing te gebruik, moet jy aan jou plaaslike biblioteek behoort, want jou lidmaatskapnommer gee jou toegang tot die toepassing,” sê Van Wyk.

Die biblioteek beskik oor ’n wonderlike kinderboek-afdeling. Met ’n eerste besoek is daar ’n biblioteek-oriëntering vir die kind en leiding word ook aan die ouer gegee oor geskikte leesstof vir die ouderdomsgroep. Van Wyk sê: “Die kindergetalle het heelwat gestyg en daaroor is ons baie bly. Dit wys dat die werk wat ons by skole doen, vrugte afwerp.

“Ons gereelde skoolvakansie-programme, wat ons in samewerking met verskeie instansies soos die Caledon-museum, Emoji Movement en Beyond Black Mountain aanbied, is baie belangrik. Ouers word aangemoedig om kinders na die vakansieprogramme te stuur, want dit is opvoedkundig en hou die kinders uit die strate gedu­rende die vakansie. Ouers weet ook dat die kinders onder veilige toesig is by ons,” noem Van Wyk.

Daar is ook ’n gemaklike plek waar mense lekker met ’n tydskrif of plaaslike koerant kan ontspan.

Van Wyk noem ook dat hulle dikwels toeriste kry wat by die biblioteek kom inloer en dan kan hulle dié mense ook ’n bietjie meer van die dorp se geskiedenis vertel.

Dit is gratis om by die biblioteek aan te sluit. Gaan maak gerus ’n draai by jou plaaslike biblioteek om uit te vind watter dienste hulle jou kan bied.

You need to be Logged In to leave a comment.