Vir die boekwurms wat graag op 9 Mei boeke of ander artikels by die biblioteke in die Overberg wil uitneem, is daar slegte nuus.
Volgens die Overstrand-munisipaliteit se munisipale bestuurder, Dean O’Neill is die stelsels van 9 Mei tot 11 Mei af weens die opgradering van die inligtingsbestuurstelsel van provinsiale biblioteke.
‘n Bibliotekaresse wat graag anoniem wil bly, vertel dat dit ‘n noodsaaklike aksie is en vra die biblioteekgebruikers om maar net geduldig te wees. “In vandag se digitale era is tegnologie ‘n noodsaaklike gereedskap en soos enige ander masjien, vereis hulle egter gereelde onderhoud om optimale werkverrigting en lewensduur te verseker,” verduidelik sy.
Die opgradering gaan daartoe lei dat die netwerk tydelik af gaan wees. “Weens die opgradering kan die biblioteke geen boeke of ander artikels uitteken nie, maar hulle sal steeds oop bly om gebruikers te help wat boeke of artikels wil terugbring, die gebruik van ander geriewe soos die rekenaars en ander beperkte dienste,” aldus O’Neill.
Maar van Maandag af kan boekliefhebbers weer hul gunstelingboeke by hul plaaslike biblioteke gaan uitneem.