Tydens die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport se onlangse kultuurtoekennings is twee biblioteke in Theewaterskloof vir hul uitsonderlike bydraes tot gemeenskapsontwikkeling deur geletterdheid, insluiting en opvoeding vereer.
Die Tesselaarsdal-biblioteek is met ‘n eerste plek bekroon vir sy beduidende gemeenskapsuitwerking deur uitreikprogramme, wat onder meer die volgende ingesluit het:
• Naskool- en vakansieprogramme met studieleiding, leesklubs en aanlyn ondersteuning tydens die inperking.
• Digitale geletterdheid met gratis rekenaar- en internetgebruik vir studente en werksoekers.
• Inklusiewe dienste met die eerste mini-biblioteek vir blindes in die munisipale gebied.
• Jong vrywilligers waar EPWP-werkers meer as 20 weeklikse leessessies by skole en vroeëkinderontwikkelingsentrums aangebied het.
• Erkenning vir hoogste uitleensyfer per capita met meer as 3 600 boeke wat in slegs vier maande in ‘n dorpie met sowat 1 500 inwoners uitgeleen is, en
• ’n Voorbeeld van hoe digitale insluiting in landelike gebiede moontlik is.
Die Greyton-biblioteek was tweede vir die bevordering van lees en geletterdheid. Sy programme het die volgende ingesluit:
• Weeklikse geletterdheidsessies met Wordworks se Ready Read Write-tegniek vir meer as 20 leerders.
• Daaglikse rekenaarondersteuning vir drie outistiese leerders.
• Vrywilligers bied weeklikse leesondersteuning aan meer as 60 kinders in Greyton, Caledon, Boontjieskraal en Bereaville aan deur die Joy2Read-program. Dié program help kinders om met selfvertroue na die volgende graad te vorder, en
• Vakansieprogramme met ouderdomspesifieke leesaktiwiteite. Onderwysers het merkbare akademiese vordering aangemeld.
Hierdie toekennings weerspieël die provinsiale visie van biblioteke as sentrums vir opvoeding, digitale bemagtiging en sosiale integrasie. Theewaterskloof se biblioteeknetwerk is nou ‘n kerndeel van die munisipaliteit se ontwikkelingstrategie, met planne om toegang en internetverbinding in elke dorp uit te brei.
Sybil Lee, die hoof van biblioteekdienste in die TWK, sê: “Twee van ons biblioteke het onlangs ‘n betekenisvolle prestasie behaal – die eerste keer in ons geskiedenis – en ek kon nie meer trots wees op die spanne agter hierdie sukses nie. Hierdie prestasie is die gevolg van onwrikbare toewyding, strategiese samewerking en ‘n gedeelde verbintenis tot uitnemendheid in biblioteekdienste. Dit weerspieël die harde werk en passie van ons personeel wat pal hul bes doen om ons gemeenskappe met integriteit en vernuwing te dien.
“As die hoof van biblioteekdienste in die TWK wil ek my opregte gelukwense aan almal betrokke oordra. Jul moeite het nie net ons biblioteke verhef nie, maar ook ‘n nuwe maatstaf gestel vir wat ons saam kan bereik. Laat dit ‘n herinnering wees dat harde werk vrugte afwerp en biblioteke meer as net geboue is – dit is lewende sentrums van leer, verbinding en groei.”
Jonelda Williams van die Tesselaarsdal-biblioteek sê: “Ons is verheug en geëerd om hierdie kultuurtoekenning te ontvang. Dit is ‘n merkwaardige prestasie vir ons klein, maar lewendige, gemeenskap. Hierdie erkenning is vir ons besonder betekenisvol omdat ons die tweede jongste en ook die tweede kleinste biblioteek in die TWK is. Deur toewyding, spanwerk en gemeenskapsgees het ons ‘n mylpaal bereik waarop ons besonder trots is.
“As biblioteekpersoneel glo ons dat niks hiervan sonder die genade en leiding van God moontlik sou wees nie. Hierdie toekenning weerspieël nie net ons harde werk nie, maar is ook ‘n getuigskrif vir wat bereik kan word wanneer eenheid in die werkplek is asook wedersydse toewyding om ander te dien, heers,” sê Williams.
Williams het alle rolspelers, die TWK-munisipaliteit en die onderskeie staatsdepartemente vir hul volgehoue samewerking bedank. “Hierdie toekenning behoort aan almal wat daaraan glo dat biblioteke die krag het om gemeenskappe op te hef en te inspireer.”





