Smullekker, vars biltong gegeur met net die regte kombinasie speserye is menige Suid-Afrikaner se gunsteling-peuselhappie.
Maar met stygende lewenskostes is dit vir sommige iets waarmee hulle hulself net af en toe kan bederf terwyl ander maar net daarvan kan droom.
Daarom was dit vir 360 inwoners van Huis Lettie Theron- en Fynbospark-aftreeoord so spesiaal toe twee inwoners van Hermanus, wat ’n biltong-onderneming besit, hulle vroeg in Desember besoek het om persoonlik vir elkeen ’n pakkie biltong met ’n pragtige Bybelvers daaraan geheg, uit te deel.
Die paartjie, wat anoniem wil bly, het hul kinders en kleinkinders se hulp ingespan om die biltong mooi te verpak en aan die bejaarde inwoners van die twee instansies in Hermanus uit te deel.
“Ons het die idee om dit te doen al ’n paar jaar in ons agterkoppe gehad, maar omdat Desember ons besigste tyd is, het ons nooit daarby uitgekom nie tot verlede jaar toe ons besluit het die tyd is reg.”
Nadat hulle die nodige reëlings vooraf met die tehuise se bestuurders getref het, het hulle hul kinders en kleinkinders se hulp ingeroep om binne een week al 360 pakkies biltong te verpak en ’n teksvers op elke sakkie vas te heg.
Maar in stede daarvan om die pakkies net by die tehuise af te laai sodat die personeel dit vir die inwoners moet uitdeel, het die paartjie en hul kleinkinders aan elke inwoner se deur geklop om die vroeë Kersgeskenke persoonlik te oorhandig.
“Vir ons het dit meer oor die interaksie met die bejaardes gegaan. Ons het die mandjies mooi versier en die kinders het wit T-hemde en feestelike haarbande gedra. Ons het onsself aan elkeen voorgestel en gesê ons bring die pakkie vir hulle.
“Almal was verheug, want baie van hulle kry nie eens besoekers nie, wat nog te sê van ’n geskenk. Een bejaarde man het gehuil en vertel hy het laas biltong geëet toe hy 20 was en iemand anders het vir ons gebid.
“Dit het ons en ons kleinkinders regtig geraak om die harde werklikheid te sien waarin die bejaardes leef,” het hulle vertel.
Die paartjie het die hoop uitgespreek dat hul gebaar ander ondernemings oor die Overberg heen sal aanspoor en inspireer om na bejaardes uit te reik.
“Ons hoop sakeondernemings sal besef hoeveel die bejaardes dit waardeer as jy na hulle uitreik,” het die paartjie gesê.