Blinde paartjie van Kaap Agulhas koop ‘n voertuig

Niks kry Cobus McDonald en Diana Nel onder nie, en dié twee is net weer ’n bewys dat omstandighede nie jou lewe moet bepaal nie, maar dat jy in beheer van jou eie lewe en geluk is.


Niks kry Cobus McDonald en Diana Nel onder nie, en dié twee is net weer ’n bewys dat omstandighede nie jou lewe moet bepaal nie, maar dat jy in beheer van jou eie lewe en geluk is.

Cobus en Diana, inwoners van Kaap Agulhas, is albei blind en het onlangs hul eerste motor, ’n Fortuner, by Hermanus Toyota gekoop. Dit klink dalk te dik vir ’n daalder, maar as ’n mens dit met ander deel, skud hulle gewoonlik net die kop in ongeloof. “Ons het die voertuig gekoop sodat ons net iemand kan kry om ons rond te ry. Dit is baie keer moeilik wanneer ’n mens ’n bestuurder het, maar geen motor is beskikbaar nie. Om jou eie motor tot jou beskikking te hê, help baie,” verduidelik Cobus.

Cobus en Diana kan nie uitgepraat raak oor die goeie diens wat hulle by Hermanus Toyota gekry het nie aangesien Cobus al voorheen ’n bloutjie by ’n motorhandelaar geloop het wat nie ’n voertuig aan hom wou verkoop nie.

“Ek kan nie glo hoe goed die diens by Hermanus Toyota was nie. Die verkoopsman, Wayne le Roux, het meer as die ekstra myl gestap. Die personeel by Hermanus Toyota was baie toeganklik, en elke oomblik van die proses het seepglad verloop,” vertel hy. “Dit was ’n reuseplesier om met hulle sake te doen, en ja, ek kan glo dit was ’n bietjie vreemd dat twee blinde mense ’n voertuig wil koop, maar hulle het uit hul pad gegaan om dit vir ons maklik te maak. Ek het al ’n geval gehad dat ek nie ’n voertuig kon koop nie aangesien ek nie ’n rybewys gehad het nie.”

Oor waarom hulle op ’n Fortuner besluit het, antwoord Cobus: “Ons neem ons twee gidshonde, Angus en Akari, orals saam met ons en hulle is meer as geregtig om gemaklik te wees, want hulle is ons oë en ore en gee ons baie meer onafhanklikheid om alleen te stap en oor die weg te kom.”

Vir Johan van Zyl, die eienaar van Hermanus Toyota, was dit ’n eer om met hulle sake te doen.

“Ons fokus van 2002 af om ’n goeie naam in die Overberg te kry en goeie klantediens is vir ons van kardinale belang. Vir ons was dit net ’n plesier om hulle hier by ons te hê en dit is vir ons ’n voorreg om met mense met gestremdhede sake te doen, en hulle het dieselfde diens as ander klante ontvang,” sê hy.

Cobus en Diana ken mekaar al van kindsbeen af waar hulle albei leerders aan Prinshof-skool vir swaksiende leerders in Pretoria was.

“In daardie stadium, omdat ons sig verswak het, is ons in die jare sewentig na Pionierskool in Worcester gestuur. Diana het die skool in 1979 verlaat en ek het in 1980 matriek geskryf,” vertel hy.

Ná skool het elkeen sy eie rigting ingeslaan en hul paaie het ná 43 jaar eers weer gekruis.

“Ons het mekaar in Hartenbos raakgeloop en weer goeie vriende geword. Ek het verlede jaar besluit om na Kaap Agulhas te verhuis, en ons het saam besluit dat ons die avontuur nie sonder mekaar gaan aanpak nie.”

Hulle is nou al agt maande in Agulhas en volgens hulle het hulle reeds baie vriende gemaak.

“Dit is eintlik ongelooflik om in so klein gemeenskap aan te pas, want ons kom van twee uithoeke van die aarde af. Ek was in Johannesburg vir my hele beroepsloopbaan, en Diana is in Kimberley gebore en getoë.

“In Gauteng het ek amper nie my bure geken nie, maar hier in Agulhas ken almal mekaar,” vertel hy.

Vir Cobus is dit belangrik om die wêreld te wys dat mense met gestremdhede ook heeltemal normaal kan funksioneer.

“Hier en daar moet daar aanpassings gedoen word, maar dis nie iets wat jy nie kan hanteer of oorkom nie,” sluit hy af.

You need to be Logged In to leave a comment.