HERMANUS – ’n Moordondersoek, ’n diamant en die duister kant van die beeld­skone Hermanus is slegs ’n paar elemente wat lesers kan verwag van Irna van Zyl se nuwe boek Bloedsteen.

Dit is haar derde misdaadroman en dié roman volg weer die avonture van die speurder Storm van der Merwe se misdaadondersoeke in die Overstrand.

Haar eerste boek, Moordvis, het hoofsaaklik in en om Gansbaai en Pearly Beach afgespeel teen die agtergrond van perlemoenstropery en die haaihokduikbedryf.

“Daarna het my hoofkarakter, Storm van der Merwe, Hermanus toe getrek en speel die volgende boek, Gifbeker, amper uitsluitlik in en om Hermanus en die Hemel-en-Aarde-Vallei af.”

Irna sê die storie is gekoppel aan die restaurantbedryf en die hele celebrity-ding wat van sjefs sterre gemaak het. Haar nuutste skepping, Bloedsteen, begin met ’n voorval in Londen. Dié aksie skuif dan na Hermanus, Port Nolloth en Kaapstad. Al drie boeke verskyn in Engels en Afrikaans. “Ek stel baie belang in wyn en probeer soveel as moontlik daarvan leer, maar ek is ’n volslae amateur. Ek stel ook belang in kos, maar sal myself glad nie ’n foodie noem nie.” Irna vertel sy moes vir Bloedsteen baie navorsing oor diamante en modes doen: “Dit was ’n hele nuwe wêreld wat vir my oopgegaan het.”

Irna het al van kindsbeen af daarvan gehou om te skryf, maar het eers later in haar lewe begin om romans neer te pen.

“Voor skool het my een suster my leer lees en skryf met die gevolg dat ek vroeg-vroeg al dik boeke aangepak en begin droom het om eendag ’n skrywer te word,” vertel Irna.

Volgens haar kan ’n mens se drome dikwels net drome bly tensy jy iets daaraan doen. In haar twintigs het Irna soms kortverhale geskryf en later in haar dertigs gedebuteer met ’n kortverhaalbundel, “maar kort nadat ek vyftig geword het, het ek besef as ek nie nou iets aan die droom doen om boeke te begin skryf nie, gaan dit net ’n droom bly”.

Irna vertel dit het baie harde werk en toewyding geneem. “In daardie stadium het ek vir langer as twintig jaar net in ’n uitvoerende hoedanig­heid in die joernalistiek en bestuur gewerk en moes ek van voor af leer skryf. Sy moes skryfkursusse bywoon en sewe jaar lank het sy gesukkel om haar eerste roman klaar te skryf. “Daar was baie probeerslae, baie po­gings wat afgekeur is en baie herskry­wery. Eintlik dink ek nie daar is ’n kortpad om ’n skrywer te word nie.”

Sy het sopas haar derde boek gepubliseer en vertel sy twyfel nog steeds en leer nog elke keer wanneer sy iets nuuts aanpak.

Die boekbekendstelling sou op Donderdag 2 April plaasgevind het, maar die funksie is gekanselleer weens die Covid-19-pandemie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article