Bly nou in berge

Arnold van der Nest het vier jaar gelede gedink sy lewe het verander toe hy ’n werk en huisvesting in Paradisepark gekry het. Hy was voorheen op straat, werkloos en op die verkeerde pad.


Arnold van der Nest het vier jaar gelede gedink sy lewe het verander toe hy ’n werk en huisvesting in Paradisepark gekry het. Hy was voorheen op straat, werkloos en op die verkeerde pad.

“Ek het die Here gedank vir ’n tweede kans en gedink dit is ’n nuwe begin,” vertel hy hartseer.

Maar drie weke gelede het dit vir hierdie 52-jarige man van Hermanus weer gevoel asof alles om hom net inmekaargetuimel het toe hy op 22 Augustus uit sy huis in Paradisepark gesit is.

“Ek het soos ’n misdadiger gevoel toe hulle daardie Maandag my meubels en al my besittings uit my huis gegooi het. Alles wat ek het, alles waarvoor ek so hard gewerk het, is net so op straat gegooi. Ek weet vir party mense is die bietjie wat ek het niks, maar dis my besittings; goed wat vir my belangrik is.” Só vertel Arnold van sy ondervinding toe die balju en wetstoepassers die inwoners wat op ’n lys was van dié wat onregmatig in Paradisepark bly, uitgesit het.

“Ek het nêrens om te gaan nie. Ek het my meubels by mense gestoor en party van my goed staan onder ’n seil in die wind en weer.”

Volgens Arnold het hy geen ander keuse gehad as om in die berge naby Hermanus vir hom ’n ander heenkome te gaan soek nie. “Ek het hier kom kamp opslaan. Ek bly tussen die bome en daar is ’n waterstroompie met vars water,” vertel hy. Hy sê verder hy bly saam met ’n man wat gereeld mense se huise in Onrus verf, en hulle voel baie veilig. “Ons uitsig is asemrowend. Ons sien tot die liggies van Gansbaai en hoor elke aand die see baie duidelik.”

Arnold, wat ’n gelowige man is, glo dat ’n uitkoms nog vir hom sal kom. “Ek glo daar is hoop en sien al die lig aan die einde van die tonnel. Ek gaan nie moed opgee nie. Ek gaan bly glo, al is dit moeilik om positief te bly.”

Wat vir Arnold die hartseerste is, is die feit dat die hele Paradisepark-saga so onmenslik is. “As hulle dit net beter hanteer het; as hulle ons net soos mense hanteer het, was dit ’n ander saak,” vertel hy hartseer.

Volgens Arnold weet hy van hulle bly onwettig daar, maar sê hulle het geen ander behuisings-geleenthede nie. “Ek is nêrens op ’n lys vir ’n huis nie, en daardie Maandag het hulle gesê ons kan in die Thusong-saal in Hawston gaan bly, maar die Hawstonners wil ons nie daar hê nie. Selfs Standford se mense, waar glo plek vir ons is, wil ons nie hê nie. Wat nou?” vra hy.

Hermanus Times is oorval met oproepe van inwoners van Stanford wat ongelukkig is oor dié voorstel.

Henry Gibson van Stanford het in ’n brief gesê die langverwagte behuisingsprojek in Stanford kan maar net nie aan die gang kom nie weens die gerugte dat Paradisepark se inwoners na Stanford verskuif gaan word.

“Die aandag word dan meer gefokus op Paradisepark se inwoners, wat die inwoners van Stanford onthuts laat – soos met die vergadering van 6 September in die gemeenskapsaal. Die burgemeester, dr. Annelie Rabie, die raadslid Dudley Coetzee en ander amptenare was teenwoordig om die gemeenskap in te lig oor die bou van die aantal huise en wie daarvoor sal kwalifiseer. Maar die vergadering is gekenmerk deur ’n oor-en-weer-pratery . . . oor die inwoners van Paradisepark wat hier gehuisves gaan word,” skryf hy.

Volgens hom het die amptenare geweet die vergadering gaan die humeure laat opvlam, want die polisie en veiligheidspersoneel was teenwoordig.

“Stanford se behuisingsprojek moet nou tot sy reg kom voordat na die inwoners van Paradisepark omgesien word. ’n Beroep is op die raadslede gedoen om die inwoners meer in te lig hieroor en oor sake wat hulle raak,” het hy verder geskryf.

“As ons almal saamwerk en Stanford se mense eerste stel, sal die projek slaag.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.