“My doel hier is om nie verder petrol op die vuur te gooi oor die bobbejaan-probleme in Bettysbaai nie, maar om al die belangegroepe byeen te kry sodat ons kan saamstaan om ’n oplossing vir die situasie te kry.”
Dít was die woorde van Anja Gerbers van Bettysbaai, wie se hond en ’n wyfiebobbejaan op 24 Augustus in ’n geveg betrokke was. Die bobbejaan is later dood.
Volgens haar skets die artikel wat in Hermanus Times (“Baboon succumbs”, 31 Augustus) en die persverklaring wat die Overstrand-munisipaliteit oor dié aangeleentheid uitgereik het, ’n verkeerde prentjie.
“Ek is ’n langtermyn-inwoner van Bettysbaai en natuurliefhebber wat glo dat ons in harmonie met die natuur moet leef. Die kommentaar van die Overstrand-munisipaliteit, wat in Hermanus Times gepubliseer is, veroorsaak net meer konflik tussen die inwoners, die munisipaliteit en Human Wildlife Solutions (HWS). Terwyl ek hulp vir die beseerde bobbejaan gesoek het, het ek duidelik die vyandigheid tussen die betrokke partye opgemerk. Volgens my is daar nie net wantroue tussen die betrokke partye oor die omstrede manier waarop die bobbejane gemonitor word nie, maar lei die kommunikasieprobleme van die verlede ook daartoe by dat geen sinvolle gesprekke tussen die mense met verskillende menings bestaan nie en moet ons almal saamstaan om ’n oplossing vir die probleem te kry.” Volgens haar wou niemand die verloop van gebeure op 24 Augustus ontwrig nie. “Inteendeel, almal teenwoordig het probeer om so behulpsaam as moontlik te wees.
“My doel met die skrywe is nie om enige standpunt oor die bobbejaankwessie in te neem nie, maar om te beklemtoon dat werk gedoen moet word om die betrokke partye terug te bring na ’n tafel sodat ons kan saamwerk en nie teen mekaar nie”.
Sy sê sy het onlangs ’n skrywe gelees oor wat hulle in Rooiels gedoen het. “Dit is ’n voorbeeld van hoe om die kwessie te hanteer, waar mens en natuur in harmonie kan saamleef.”
Die Bettysbaai-bewaringsorganisasie het ook sy misnoeë uitgespreek oor die Overstrand-munisipaliteit se verklaring oor die gebeure van dié dag:
“Die Overstrand-munisipaliteit het op 24 Augustus ’n onakkurate plasing op sy Facebookblad gesit oor die dood van ’n bobbejaan in Silversands. En op 25 Augustus het die Betty’s Bay Conservancy ’n verklaring uitgereik wat gelui het: ‘Ons vind dat hierdie verklaring van die munisipaliteit nie ’n akkurate verslag gee oor wat gebeur het nie en dat hulle verkeerde inligting aan die gemeenskap versprei. Ons versoek ook dat dit teruggetrek moet word en eis ’n verskoning.’ ”
Volgens die bewaringsorganisasie wil hulle die feite onder inwoners en lesers bekend maak:. Dit is van die begin af duidelik gemaak dat die bobbejaan deur ’n hond gebyt is;. Die natuurbewaarder was daar op versoek van die eienaar van die hond aangesien daar geen reaksie van die HWS-blitslyn was nie;. Die HWS het nie die bobbejaan ontdek nie; hulle is oor die voorval ingelig;. Die inwoners was nie verantwoordelik vir die volgende nie: vir die feit dat die beseerde bobbejaan in die bosse op die erf weggekruip het; dat die HWS nie toegang tot die bobbejaan kon kry nie; dat die HWS probeer het om die bobbejaan in ’n hok te vang; dat die HWS eers later ingestem het om ’n veearts te kontak terwyl die eienaar dadelik ’n veearts oor die voorval wou inlig.
“Ons versoek die munisipaliteit om die saak weer te ondersoek en die regte feite te gee asook ’n verskoning oor die verkeerde inligting te plaas,” sluit hulle af.

