’n Jong bobbejaan is gister in Kleinmond doodgebyt.Foto: Ter illustrasie


Net nadat die Overstrand-munisipaliteit bekend gemaak het dat die bobbejane in Kleinmond vir hul jaarlikse vakansie hier is, is ’n jong bobbejaan gister in dié kusdorp doodgebyt.

“Die voorval het in 15de laan in Kleinmond plaasgevind waar honde hom aangeval en beseer het,” het die munisipale bestuurder, Dean O’Neill, gesê. “Die jong bobbejaan is later weens sy beserings dood.”

Volgens O’Neill het die ma van die jong bobbejaan ’n rukkie by die karkas gebly voordat sy die berge in gevlug het.

“Daar is verdere bewyse dat ’n mannetjiesbobbejaan ook deur honde gebyt is, maar dit blyk dat hy gesond is en saam met die res van die trop in die berge is.

“Hierdie voorval wys weer eens die gevare waardeur bobbejane in die gesig gestaar word wanneer hulle die dorpe binnegaan en dit beklemtoon net weer die feit dat die kontak tussen mens en dier te alle tye tot die minimum beperk moet word,” aldus O’Neill.

Hy maan verder die inwoners om hul honde binnenshuis te hou wanneer hulle die vuvuzela-waarskuwings hoor om sodoende verdere aanvalle te voorkom.

You need to be Logged In to leave a comment.