Die gemoedere tussen bobbejaanliefhebbers, die munisipaliteit en inwoners loop hoog nadat ’n bobbejaan en ’n hond verlede Dinsdag (16 Augustus) in ’n geveg betrokke was.
Volgens die eienaar van die hond het hy in die rigting van Hangklip-hotel gedraf toe sy hond skielik losgeruk en ’n trop bobbejane bestorm het.
’n Mannetjiesbobbejaan, wat die trop wou beskerm, het toe in ’n geveg met die hond betrokke geraak. Volgens ’n persverklaring, wat deur die Overstrand-munisipaliteit uitgereik is, het die eienaar van die hond probeer om die twee te skei, maar sonder sukses. “Gelukkig het die hond en die bobbejaan mekaar gelos en die hond is dadelik na ’n veearts geneem. Na verneem word het die hond beserings aan die kop en spiere opgedoen, maar hy sterk goed aan,” het Dean O’Neill, die munisipale bestuurder, bevestig.
’n Soektog na die beseerde bobbejaanmannetjie is van stapel gestuur, maar geen teken van hom is gevind nie.
Die Overstrand-munisipaliteit wil dit duidelik maak dat die bobbejaan, wat by die voorval betrokke was, nie ’n blou merker aan sy oor gehad het nie. “Die bobbejaan is Donderdagoggend in Pringlebaai gekry. Hy het geen beserings gehad nie en dit is duidelik dat die bobbejaan deel van die Hangklip-trop is. Selfs die eienaar van die hond, wat by die voorval betrokke was, het bevestig dat die bobbejaan van die Hangklip-trop is,” het O’Neill gesê. “Ons wil graag ’n beroep op die gemeenskap doen om nie fopnuus te versprei nie en eerder direk met die munisipaliteit te praat om agter die kap van die byl te kom. Ons sal altyd die ekstra myl loop om agter die waarheid te kom.”