As jy in die Overberg woon en veral in buurte soos Voëlklip en dorpe soos Bettysbaai en Pringlebaai, dan moet jy dit vir lief neem dat bobbejane deel van jou daaglikse probleme of genot gaan wees.

Die bobbejane in dié streke lok gemengde reaksie uit en sommige inwoners voel daar word te min gedoen om die bobbejaanprobleem die hoof te bied, terwyl ander weer voel daar moet saam met die bobbejane geleef word.

’n Inwoner van Bettysbaai het verlede week in ’n plasing op die plaaslike Facebook-blad gekla oor bobbejane wat deur die diefwering gebreek en chaos in haar huis veroorsaak het.

Sy was weg vir die naweek en met haar terugkoms het sy op die nagmerrie afgekom.

Op die foto’s kan ’n mens duidelik sien hoe die bobbejane letterlik in haar huis baljaar het – breekware lê flenters in die huis rond, die ongenooide besoekers het in haar huis ontlas en kos is ook oopgeskeur en half opgevreet.

Van die inwoners is dit eens dat bobbejane in die woongebiede nou ’n groot probleem gaan word aangesien veldbrande in Januarie hul natuurlike habitat verwoes het en hulle nou sonder kos is. Ander is weer van mening dat inwoners maar in vrede met die bobbejane moet saamleef terwyl ander die Overstrand-munisipaliteit kwalik neem vir die toenemende konflik tussen die bobbejane en inwoners.

Die Overstrand-munisipaliteit het ’n persverklaring op 29 Junie verlede jaar uitgereik oor die bobbejaan-bestuursprogram-kontrak wat aan die einde van Junie 2023 verval het. ’n Nuwe tender is geadverteer, maar geen geskikte kandidaat is gevind nie en die Overstrand-munisipaliteit het besluit om die huidige kontrak met Human Wildlife Solutions tot 7 Desember te verleng.

Bykomende personeel is in die Kleinmond-, Pringlebaai- en Bettysbaai-omgewing aangestel om die gebied te monitor. Die Overstrand-munisipaliteit het in die persverklaring bevestig 32 mense sal in die dorpe werk, onder wie een streeksbestuurder, drie toesighouers en 12 eko-veldwagters.

Volgens die munisipaliteit is dit elke inwoner en besoeker se verantwoordelikheid om hul vullis só te bestuur dat dit nie bobbejane sal lok nie.

“Geen swartsakke mag op die sypaadjies geplaas word nie en jy moet jou vullis op die sypaadjies uitsit slegs op die dae wanneer die vullis verwyder word,” het die munisipale bestuurder, Dean O’Neill gesê.

“Moet ook nie die bobbejane voer nie, want dit is nie net onwettig nie, maar skep ook probleme vir ander inwoners.”

Noodnommers: Hermanus-/Voëlklip-gebied: 072 028 0008.. Kleinmond/Bettysbaai/Pringlebaai: 069 1515 962.

Die doel van die bobbejaan-noodnommers is vir die munisipaliteit om te weet dat daar bobbejane in die omgewing is en of daar huise in gevaar is sodat die nodige hulp verleen kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.