Een keer per maand gaan Gerhard van Wyk van die Caledon- biblioteek na die Protea Dienssentrum om ’n boekvoorlesing vir die lede te doen.
Donderdag 25 Januarie het Van Wyk uit Riana Scheepers se Katriena Vertel voorgelees. Die hoofkarakter, Katriena, se hartstories uit die kombuis is skreeusnaaks en die lede geniet dié voorlesings terdeë.
Daar het ook ’n groot verrassing op lede gewag toe hulle vroeër die maand hulle gereelde verrigte hervat het – die saal waar byeenkomste gehou word het ’n gedaanteverwisseling ondergaan nadat dit gedurende die reses opgeknap is. Nie net is die saal geverf nie, maar daar hang ook nuwe gordyne en nuwe matte is gelê.
Marlene Rousseau, bestuurder van die Protea Dienssentrum, het haar dank teenoor die NG Moedergemeente uitgespreek wat vir die opknapping verantwoordelik was.