Die probleem by biblioteke waar boekwurms nie kan boeke uitneem nie, is nie net ’n plaaslike probleem nie, maar oor die hele Wes-Kaap heen, behalwe die Stad Kaapstad.
Volgens Dean O’Neill, munisipale bestuurder van die Overstrand-munisipaliteit, het hierdie probleem te doen met die provinsiale biblioteek se inligtingbestuurstelsel. Lede van die biblioteek is onthuts gelaat en het hul frustrasies op die personeel uitgehaal, en die Overstrand-munisipaliteit wil dit onder lesers se aandag bring dat dit iets is wat buite sy beheer is.
Om ’n oplossing te vind, het personeel samesprekings met die direkteur van biblioteekdienste van die Wes-Kaap, Cecilia San, gehou. ’n Tydelike oplossing is gevind en boeke gaan weer soos op die ou manier uitgeleen word deur al die staafkodes neer te skryf.
“Biblioteke sal vir ’n dag of twee gesluit wees om seker te maak dat al die boeke terug op die rakke geplaas word en om die personeel rakende die nuwe verwikkelinge voor te berei.
“Ongelukkig sal die biblioteeklede ’n vorm moet invul voordat hulle boeke kan uitneem. Nuwe lede is ook welkom om aan te sluit. Ons vra die inwoners se samewerking in die verband,” het O’Neill afgesluit.