Boeliegedrag is nie nuut nie. Dit kan by ’n skool, die werkplek en deesdae veral in die kuberruim plaasvind.
Die internasionale “Staan op teen boelies-dag” vind sedert 2008 jaarliks op die laaste Vrydag in Februarie plaas.
Travis Price en David Shepherd, twee gr. 12-leerders van Nova Scotia, Kanada, het nadat hulle gesien het hoe ’n leerder, wat ’n pienk hemp skool toe gedra het, daaroor geboelie word, besluit om iets daaraan te doen.
Hulle het hul skoolmaats versoek om die volgende dag pienk hemde te dra en het ook 50 T-hemde gekoop en uitgedeel.
Hierdie optrede is in Kanada, die VSA en ander lande raakgesien en het die daaropvolgende jaar wêreldwyd posgevat.
Boeliegedrag laat slagoffers bang, verneder en waardeloos voel en lei selfs tot selfdood onder jonger kinders en tieners. Om bewusmaking te skep oor hoe verkeerd boeliegedrag is, het die Caledon-biblioteek, in samewerking met die Caledon-museum, Vrydag 23 Februarie’n groot groep leerders van The Glebe Primêr in Myddleton toegespreek.
Marlon Sauls van die Caledon-museum het ’n kort drama geskryf waarin boeliegedrag in die skoolomgewing uitgebeeld is. Sauls, Macneal Grant (museum), Gerhard van Wyk en Renske-Lee Kiewitz, albei van die biblioteek, het die drama opgevoer. Van Wyk en sers. Tembi Gweyi van die Caledon-polisie het die leerders oor die verskillende vorms van boeliegedrag toegespreek en beklemtoon hoe verkeerd en skadelik dit is.
Benewens die “Staan op teen boeliegedrag-dag” in Februarie word op die derde Vrydag in November ’n teen-boelie-dag gehou om mense daaraan te herinner om boeliegedrag te beëindig en ondersteuning aan slagoffers te bied.