Boer van Stanford kry vyf jaar vir manslag

Jan Malan, die bekende boer van Stanford wat in 2019 op aanklag van moord in hegtenis geneem is, is verlede week in die Kaapse streekhof vyf jaar gevangenisstraf opgelê.


Jan Malan, die bekende boer van Stanford wat in 2019 op aanklag van moord in hegtenis geneem is, is verlede week in die Kaapse streekhof vyf jaar gevangenisstraf opgelê.

Dit beteken Malan, in sy 60’s, hoef slegs ’n kwart van sy vonnis uit te dien voordat hy vir parool in aanmerking kan kom.

Malan is op 21 Desember 2023 skuldig bevind aan strafbare manslag in verband met Johan “Seun” Fortuin se dood in Julie 2019 nadat die twee mans in ’n struweling betrokke was.

Die media het destyds berig Malan het Fortuin glo op sy plaas gewaar en hom agternagesit om hom te konfronteer. Fortuin is met ’n mes gesteek en is na die hospitaal vervoer, waar hy gesterf het.

Malan is kort daarna op aanklag van moord in hegtenis geneem terwyl hy by die Stanford-polisiekantoor was om ’n klag teen sy aanvallers aanhangig te maak.

Sy regsverteenwoordiger in daardie stadium het bevestig Malan het inwendige beserings in die voorval opgedoen en moes ook in die hospitaal opgeneem word.

Eric Ntabazalila, die Wes-Kaapse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het bevestig Malan is op aanklag van strafbare manslag skuldig bevind op grond daarvan dat hy die perke van selfverdediging oorskry het.

Van die feite wat ter verswaring van vonnisoplegging in ag geneem is, is die geweld van die aanval en dat hy nie berou getoon het nie.

Ter versagting is aangevoer dat Malan ’n eerste oortreder is, ’n harttoestand het en sy ouderdom.

Ntabazalila het verduidelik Malan se saak is van tyd tot tyd in die Kaapse streekhof aangehoor weens beurtkrag en die feit dat dié hof in ’n gebied is wat van beurtkrag kwytgeskeld is.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.