Aseza Hele (Blommie) speel op die oomblik in Engeland, maar gaan weer oor drie weke vir die Boland-vroue beskikbaar wees.


Die Boland-vrouerugbyspan se harde werk werp vrugte af deurdat hulle tans tweede op die punteleer onder die Blue Bulls Daisies is.

Saterdag meet dié vroue kragte teen die EP Queens op die Hoërskool Hermanus se rugbyveld. “Hoewel die EP Queens laaste op die punteleer is, kan ons nie die wedstryd ligtelik opneem nie. Dit sal ook hopelik die eerste keer in ’n lang tyd wees dat ons span amper volledig gaan wees. Ons het net twee beserings, Theresa Rui­ters en Arthea King. Van ons spelers wat in Madagaskar vir die Bokke uitgedraf het, is ook weer terug,” vertel Michelle Bosch, die bestuurder van die Boland-vrouerugbyspan. Volgens haar is die span hard aan die oefen in Hermanus. “Ons gaan probeer om ons tweede plek ten alle tye te behou. Alle eer kom ons Vader in die hemel toe wat ons tot hiertoe gelei het en ons glo en vertrou dat Hy ons verder sal deurdra. Ons was geseënd met min beserings tot dusver en glo dit is genade van Bo,” het Michelle gesê. Sy het ook genoem Aseza Hele (Blommie) sal oor drie weke terug wees nadat sy vir die Engelse rugby­klub Harlequins uitgedraf het. “Ons is verskriklik bly om te noem dat sy met haar terugkoms deel van ons span gaan wees,” het Michelle afgesluit.. Die wedstryd begin om 15:00 op die Hoërskool Hermanus se rugbyveld.

You need to be Logged In to leave a comment.