Borgtog nie toegestaan

“No bail! No bail!” het verlede week voor die Bredasdorp-landdroshof weergalm toe ’n 68-jarige man in verband met die verkragting van ’n sewejarige meisie verskyn het.


No bail! No bail!” het verlede week voor die Bredasdorp-landdroshof weergalm toe ’n 68-jarige man in verband met die verkragting van ’n sewejarige meisie verskyn het.

Die skare mense het vroegoggend reeds voor die hof vergader en die voertuig wat gevangenes na die hof vervoer, ingewag. Met die trok se aankoms het hulle luidkeels geskree en agter die voertuig aangehardloop.

Heavenly Promise, ’n niewinsgewende organisasie wat slagoffers van gesinsgeweld en seksuele misdade ondersteun en ’n plek van veiligheid in Bredasdorp bedryf, het ’n petisie met 1 140 handtekeninge by die hof ingehandig. In die petisie word gevra dat die beskuldigde nie op borgtog vrygelaat moet word nie aangesien daar gevrees word dat hy hom weer aan soortgelyke wandade kan skuldig maak.

Die nuus dat die beskuldigde besluit het om sy borgtogaansoek te laat vaar, is opgewonde verwelkom. Die 68-jarige man word daarvan beskuldig dat hy ’n sewejarige kind Sondag 13 Februarie onder valse voorwendsels na sy huis in Millpark, Bredasdorp gelok en haar toe na bewering verkrag het.

Altesaam 25 mense het voor die hof gestaan met foto’s van Kaydé Williams, ’n vyfjarige kind van Bredasdorp wie se liggaam op 2 Februarie 2015, ’n dag nadat sy verdwyn het, gevind is in bosse waar Millpark sedertdien ontstaan het.

Die 25 foto’s, sê Lana O’Neill van Heavenly Promise, verteenwoordig 25 meisiekinders wat in die straat woon waar die beskuldigde woonagtig is en dus ook in gevaar was.

Die saak is vir nadere ondersoek tot 24 Maart uitgestel. Die beskuldigde sal in aanhouding bly.

Inwoners beweer dat die man al voorheen soortgelyke klagtes in die gesig gestaar het, maar dat van die jong slagoffers se ouers dié klagtes teruggetrek het.

’n Inwoner van Napier, waar die beskuldigde voorheen gewoon het, sê haar familie het ongeveer agt jaar gelede ’n interdik en beskermingsbevel teen die man gekry nadat hy na bewering homself aan haar 14-jarige niggie ontbloot en haar agtervolg het.

“Dit is tragies dat ’n kind (na bewering) verkrag is, maar ons is bly hy is uiteindelik agter tralies, want die mense van Napier sê dit gebeur al jare lank,” sê die vrou.

Die Hermanus Times is ook in besit van ’n ou koerantuitknipsel waarin berig word dat die beskuldigde aangekla is van poging tot verkragting.

Volgens die berig in die Suidernuus het die aanklag verband gehou met ’n voorval in 2006 en was die slagoffer slegs vier jaar oud.

Daar is berig dat die saak van die landdroshof na die streekshof oorgeplaas is. Die Hermanus Times kon egter teen druktyd nie bevestig wat die uitslag was nie.

Lana O’Neill, stigter van Heavenly Promise, sê dit is van kardinale belang dat ouers van slagoffers nie die sake moet terugtrek nie.

“Al word jy geld aangebied om die saak terug te trek, moet dit nie doen nie. As daardie man vrygelaat word, kan hy dit aan ander kinders ook doen,” waarsku O’Neill.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.