Skok, ongeloof en woede het geheers nadat twee mans, wat van die driedubbele moord in Hawston aangekla is, elk op borgtog van R10 000 vrygelaat is.
Die hofsaal was Donderdag volgepak met die moordslagoffers – Royston Plaatjies, Vittorio Julies en Uwellin Salies – se familielede, vriende en ondersteuners. Almal het egter uitgestorm nadat beslis is dat Mzwandile Nyembezi en Mfundo Tom op borgtog vrygelaat kan word.
‘n Familielid van Plaatjies het gesê: “Die justice system fail ons. Een is uit op parool vir moord, die ander se parool het verlede jaar geëindig, maar hulle word op borgtog vrygelaat. Beteken ons kinders se lewe niks? En wat van ons en ons kleinkinders se lewe? Ons voel ons lewens is in gevaar, want hulle is buite.”
‘n Vriend van die oorledenes het bygevoeg: “As ons hier vir ‘petty’ sake soos aanranding verskyn, kry ons nie borgtog nie, maar nou is iemand wat van drie moorde aangekla word, op borgtog vrygelaat. Hoe maak dit sin?”
Nyembezi, Tom en Tsepo Moahloli, wat besluit het om nie om borgtog aansoek te doen nie, is aangekla van Salies, Julies en Plaatjies se moorde. Die saak teen beskuldigde nommer een in die saak is teruggetrek.
Moahloli word ook aangekla van die onwettige besit van verbode vuurwapens en ammunisie. Hy en Luthando Ngedezi is op 28 Mei in Paarl in hegtenis geneem. Die polisie het toe op ‘n AK47-aanvalsgeweer en agt patrone, drie 9mm-pistole en verskeie rondes ammunisie beslag gelê. Paarl Post het berig Ngedezi (35) en Moahloli (39) het hul borgtogaansoek in die Paarl-landdroshof laat vaar. Die saak is tot 5 Augustus uitgestel.
Nyembezi het self in sy borgtogaansoek getuig terwyl Tom se regsverteenwoordiger ‘n verklaring van sy kliënt voorgelees het. Die staat het borgtog teengestaan aangesien die beskuldigdes van skedule 6-misdrywe aangekla is.
Nyembezi het erken dat hy in 2000 aan strafbare manslag skuldig bevind is, dat hy in 2002 altesaam 28½ jaar gevangenisstraf opgelê is vir moord en gewapende roof en dat hy in 2015 nege jaar tronkstraf vir gewapende roof en die onwettige besit van vuurwapens opgelê is. Hy is tans uit op parool in verband met die moord en roof. Tom, wat tronkstraf vir gewapende roof uitgedien het, se parooltydperk het verlede jaar verstryk. Nyembezi se prokureur het in sy slotbetoë gesê daar is tans geen getuieverklarings in die dossier wat Nyembezi aan die skietery koppel nie.
Die landdros het in haar uitspraak uitgewys dat Nyembezi glad nie in die beeldmateriaal gesien word nie. Die ondersoekbeampte het getuig dat Tom uitgeken en verbind is deur die klere waarin hy kort ná die skietvoorval by die hotel gesien is. Die klere stem ooreen met die klere wat een skieter gedra het. Tom se prokureur het uitgewys dat daar “geen konkrete bewyse” is wat sy kliënt met die moorde verbind nie.
Die staatsaanklaer het aangevoer dat die ondersoek nog in ‘n vroeë stadium is en dat die staat in dié stadium nie die beskuldigdes se skuld hoef te bewys nie. Die landdros het hiermee saamgestem, maar gesê die kringtelevisiebeeldmateriaal is nie duidelik genoeg om die skieters positief te identifiseer nie.
Borgtog is dus aan Tom en Nyembezi toegestaan.
