Die man wat daarvan aangekla is dat hy twee studente in die Franschhoekpas ontvoer en ’n losprys vir hul vrylating geëis het, sal Dinsdag (9 Julie) weer in die Caledon-landdroshof verskyn waar hy na verwagting om borgtog aansoek sal doen.
Lt.kol. Malcolm Pojie, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig dat die ondersoek voortduur en nog inhegtenisnemings moontlik is.
Intussen het Paarl Post, Hermanus Times se susterskoerant, berig een van die studente se familie het die losprysgeld wat hulle aan die ontvoerders moes betaal, teruggekry.
Die twee studente is Saterdag 15 Junie na bewering deur mans wat in ’n minibus gereis het, oorval en ontvoer.
Hulle is later in Grabouw vrygelaat nadat hul families na bewering groot bedrae geld, wat volgens berigte tussen R50 000 en R200 000 wissel, aan die ontvoerders betaal het.
LEES MEER | Man vas ná ontvoering van studente
’n Vroulike fietsryer is twee dae voor die studente se ontvoering ook in die Franschhoekpas deur mans in ’n wit minibus ontvoer.
Die verdagtes het haar na bewering van haar fiets af gestamp en die fiets teen die berghelling afgegooi.
Ook sy is in Grabouw vrygelaat nadat sy volgens berigte ongeveer R50 000 aan haar ontvoerders betaal het.
’n Klagte van ontvoering word in verband hiermee ondersoek.
Geldwassery-aanklag
Die verdagte is Dinsdag 18 Junie deur die provinsiale multidissiplinêre taakspan wat ontvoerings ondersoek, in samewerking met eksterne vennote aangekeer. Hy het op 20 Junie die eerste keer op aanklagte van ontvoering, afpersing, gewapende roof en geldwassery in die Caledon-landdroshof verskyn.
Pojie wou nie te veel oor die geldwassery-klag uitbrei nie, maar het verduidelik: “Dit het te make met die versteek van die losprysgeld op ’n manier waarop dit nie maklik nagespoor sou kon word nie.”
Hy het bevestig dat die 32-jarige verdagte op 9 Julie weer in die Caledon-landdroshof moet verskyn waar hy na verwagting ’n borgtogaansoek sal bring. “Hy word tot dan aangehou.”
Intussen het die Fidelity Services-groep in ’n verklaring gesê wanneer dit by kapings en ontvoerings kom, kan individue ’n groot en positiewe verskil aan hul veiligheid maak deur eenvoudig bewus te wees van wat rondom hulle aangaan.
Charnel Hattingh, ’n woordvoerder van die Fidelity Services-groep, het die volgende veiligheidswenke gedeel: “In die ongelukkige situasie waar jy ’n slagoffer van ’n kaping word, is dit belangrik om kalm te bly en die instruksies te gehoorsaam. Probeer om soveel inligting moontlik oor die kapers en die voertuig wat hulle gebruik, in te win.
“Praat met jou versekeringsverskaffer oor die voertuigopsporingsapparaat wat hulle aanbeveel. Dit kan jou help om jou voertuig op te spoor.”