Overberg se distriksgemeenskaps-polisiëringsforum (GPF) het sy kommer uitgespreek oor wat hy bestempel as die “[ondoeltreffende] bestuur” van die Botrivier-satellietpolisiekantoor, waar inwoners dikwels deur toe deure begroet word.
Dié satellietkantoor, wat onder die Caledon-polisie val, kry daagliks slegs een polisievoertuig. Die kantoor het boonop geen geriewe vir die registrasie van sake nie en alle administratiewe take moet in Caledon gedoen word, het Melvin Davids, die GPF-distriksvoorsitter, gesê. “Die gevolg is dat die beamptes dan al die pad tot in Caledon moet ry wanneer hulle inhegtenisnemings moet uitvoer. In daardie tydperk is daar dus geen polisiesigbaarheid in die dorp of by die satellietkantoor nie. Die laaste ruk het inwoners ‘n paar keer by die kantoor voor geslote deure opgedaag. Sommige moes dan uitgawes aangaan om dokumente in Caledon te gaan sertifiseer,” sê hy.
Davids sê die provinsiale voorskrifte, ingevolge waarvan Botrivier twee polisievoertuie moet kry, is in Januarie beëindig. “Ons het al talle navrae [daaroor] aan die waarnemende bevelvoerder gerig. Ten spyte van die talle ander uitdagings wat inwoners met die kantoor self ervaar, het die dorp minstens twee voertuie gehad. Die polisie was dus altyd in die dorp sigbaar.”
Die Caledon-polisie se bevelvoerder is volgens Davids tans met siekteverlof en die hoof van sigbare polisiëring neem as bevelvoerder waar. Gesprekke is al jare in die gemeenskap van Botrivier aan die gang om sy eie volwaardige polisiekantoor te kry. Volgens Davids is verskeie versoeke tevergeefs aan provinsiale en nasionale polisieleierskap gerig.
“Ons het nou ‘n punt bereik waar inwoners moet betaal vir ‘n diens wat hul grondwetlike reg is. Inwoners moet uitgawes aangaan om in Caledon uit te kom. Aan die ander kant is misdaad aan die toeneem. Ons begin nou al meer rooftogte en diefstal sien en in baie van hierdie gevalle monitor die skelms die polisie se bewegings. Hulle weet wanneer die patrolliewa nie in die dorp is nie.”
Intussen het Hermanus Times ook ‘n brief onder oë gehad waarin die Botrivier-buurtwag onlangs aan die waarnemende bevelvoerder oor die uitdagings by die kantoor geskryf het.
Mike Moses, die voorsitter van die buurtwag, sê in die brief dat hulle onder meer sukkel om lede geregistreer te kry omdat beamptes daar feitlik nooit by die kantoor aan diens is om vingerafdrukke te neem nie. Volgens Moses sukkel die buurtwag ook om met die polisiebeamptes aan diens te kommunikeer wanneer buurtwaglede patrollie doen.
Volgens lt.kol. S.P. Botha van die Caledon-polisie is die Botrivier-satellietpolisiekantoor oop. “Tans is daar een sektorvoertuig en van tyd tot tyd sal daar ‘n ander voertuig beskikbaar wees. Botrivier-polisiekantoor sal as ‘n satellietkantoor funksioneer,” aldus Botha.


