‘n Mens sal wonder wat halftyd in die kleedkamers van Botrivier gesê is nadat die span van die Overberg Saterdag (1 November) met halftyd 10-0 teen Roses United agtergeloop het.
“Ek het nog nooit so ‘n terugvegpoging beleef nie…” “Dit was rugby uit die boonste rakke…” “Botrivier het karakter getoon en gewys dat hy ‘n span is waarmee rekening gehou moet word…”
Dít was maar net van die boodskappe wat ingestroom het nadat Botla Fire Saterdag in Wellington teen Roses United gespeel en in die doodsnikke 21-17 gewen het. In die eerste helfte was daar net een span op die veld, en dit was Roses. ‘n Mens kon sien waarom dié span in 25 wedstryde onoorwonne was. United het voor sy tuisskare nie teleurgestel nie en sommer vinnig in die eerste helfte gewys waarom hy so moeilik is om te klop. Vinnig het die span halftyd 10-0 voorgeloop en die manne was skaars op die veld vir die tweede helfte of Roses het weer agter die doellyn gaan kuier om die telling 17-0 te maak. Net voor russtyd het die skrumskakel van Botrivier oorgeduik vir ‘n drie, maar nadat die televisieskeidsregter vasgestel het dat hy die bal vorentoe verloor het, is die drie nie toegeken nie en het Roses weer Botla in hul speelgebied teruggejaag.
Die twee spanne het mekaar behoorlik voorlangs opgekeil en in die tweede helfte het Botla na die wedstryd gekom en twee drieë gedruk om die telling 17-14 in die doodsnikke van die wedstryd te maak. Met speeltyd klaar verstreke en Botla-ondersteuners wat kop onderste bo gesit het met hul span wat die onderspit gaan delf, het die span nie gaan lê nie en in die 85ste minuut gewys waarom hy die beste in die Overberg is.
Botla het met goeie ‘n goeie agterlynbeweging tot reg op die einde gespeel en almal was verheug toe Botla Fire se vleuel CJ Swarts almal uitoorlê en agter Roses se doellyn oorgeduik het. Die eindtelling was 21-17 in Botrivier se guns.
Al het Roses sy eerste wedstryd van die uitspeelwedstryde verloor, is hy steeds bo-aan die punteleer van Groep A met 16 punte. Botrivier is derde met 15 punte. Saterdag speel Botrivier teen Vredenburg.
• Safcol het Saterdag teleurgestel en sy kans om in die halfeind te speel, is nou verby. Saffies van Grabouw het Saterdag op sy tuisveld 19-22 teen Hillcrest van Wellington verloor. Hy kan net homself die skuld vir dié nederlaag gee. Voor het Safcol behoorlik oorheers, maar die tekort aan afronding en samespel het veroorsaak dat hy nie die knoop kon deurhak nie.
Hillcrest het sommer vroeg-vroeg in die eerste helfte twee keer agter Saffies se pale gaan kuier met twee skitterende drieë deur die agterspelers. Safcol het daarna teruggeveg en met lekker voorspelerrugby vorendag gekom en ‘n skitterdrie gedruk.
Safcol, wat al as die Boland-kampioen gekroon is, sal moet teruggaan tekenbord toe en vasstel waarom hy nou week ná week verloor. Volgens van sy ondersteuners probeer die bestuurspan nuwe kombinasies en word hulle al vir volgende jaar se seisoen voorberei, maar ander is weer van mening daar is ‘n tekort aan dissipline in die span aangesien hulle soveel strafskoppe afstaan. Ander is weer van mening dat Safcol nie goed genoeg by die breekpunte meeding nie en sodoende omtrent al hul balle verloor. Saterdag speel Safcol sy laaste wedstryd teen Abbotsdale.


