Vir die inwoners van die Greyton- en Gendadendal-omgewing voel dit of hulle altyd aan die agterspeen suig.
Nie net verspoel hul paaie as reën in hul omgewing uitsak nie, maar baie van die inwoners is ook ná die April-storms dakloos gelaat.
Verlede week het die afdeling vir menslike nedersettings van die Theewaterskloof-munisipaliteit boumateriaal aan 80 gesinne van Madibapark in wyk 2 uitgedeel. Volgens die TWK is die beginpakkette deur die nasionale departement van menslike nedersettings moontlik gemaak.
Van die inwoners voel dit is te laat terwyl ander baie dankbaar was vir die skenking. “Van ons sit al van April af sonder ander heenkome en moes by familie gaan bly om net ’n dak oor ons kop te hê,” het een van die inwoners gesê.
’n Ander inwoner is weer van mening dat politieke partye leë beloftes voor die verkiesing gemaak het en hulle ná die verkiesing aan hul eie lot oorgelaat het. “Ons het gewag en letterlik nog deur ’n paar storms gegaan voordat aan ons behoeftes gehoor gegee is,” het ’n ander inwoner gesê.