’n Gesin van Blompark, Gansbaai, is in rou gedompel nadat hul blinde dogter gesterf het in ’n brand wat ook hul huis in puin gelê het.
Luitenant-kolonel Winston Coetzee, stasiebevelvoerder van die Gansbaai-polisie, sê owerhede is Saterdag 29 Januarie na ’n brand by ’n huis in Dahliastraat ontbied.
Die brandweer was ook op die toneel om die brand te blus.
“Aanduidings is dat die brand in een van die informele strukture, wat aan die huis verbind was, begin het. Die informele strukture is in die brand verwoes,” sê Coetzee.
Riana Anthony (35) se liggaam is later in die puin gevind. Volgens die slagoffer se ma was sy, haar man en die oorledene in hul deel van die woning toe haar man rook geruik het.
“Hulle het ondersoek ingestel en gesien die struktuur wat aan hul huis grens, is aan die brand,” het Coetzee gesê.
“Die paartjie het eers later besef hul dogter is steeds in die huis en het in die brand omgekom. ’n Geregtelike doodsondersoek is ingestel.”
Sammy Brett, ’n lid van die gemeenskap, het almal bedank wat ingespring het om te help.
“Ek wil veral vir Cassie Carstens van Overstrand Medical Response bedank vir sy hulp. Hy het met ’n tuinslang op die dak geklim om te help natspuit totdat die brandweer opgedaag het. Hy is waarlik ’n aanwins vir ons gemeenskap.
“Ek wil ook die burgemeester, dr. Annelie Rabie, bedank vir die feit dat sy uitgekom het om met die familie te praat. Die gemeenskap waardeer dit opreg.”
Volgens Brett is die gebroke gesin se grootste behoefte ’n plek om te bly aangesien hulle tans by familie gehuisves word.
Die gesin benodig ook boumateriaal vir ’n tydelike struktuur en om hul huis te herbou. Mense wat iets hiervoor wil skenk, kan Brett by 062 785 8145 of pastoor Frikkie Zeelie by 082 498 6992 kontak.