Die brandseisoen het skaars begin en Gansbaai-inwoners kan getuig van ongemak en vrees toe ‘n brand op 25 Oktober in die omgewing uitgebreek het en steeds is die vuur nie in bedwang nie.
Volgens die nuutste inligting het ‘n vuur weer gisteraand bo De Kelders ontstaan en brandbestryders is weer na die gebied ontbied om dit in bedwang te bring. “Tans is van die spanne besig met opruimingswerk en om die gebied te monitor,” het Dean O’Neill, Overstrand-munisipale bestuurder gesê.
Die Overstrand-munisipaliteit het Saterdag ‘n persverklaring uitgereik oor die stand van die brande in Gansbaai. Gaste en inwoners van Grootbos-natuurreservaat is omstreeks 21:00 Saterdagaand in kennis gestel hulle moet ontruim en die situasie word volgens die Overstrand-munisipaliteit se munisipale bestuurder gemonitor.
Maandagoggend het die OM weer ‘n persverklaring uitgereik waarin hy bevestig het dat die brande steeds in die Gansbaai-berge woed en dat ‘n nuwe uitgeruste span nou besig is om die vuur in bedwang te bring. “Ongeveer 1 700 hektaar het in die slag gebly en die Strandkloof-woonwapark word gemonitor. Ons wil graag die Overstrand-brandweerdienste, die verkeersafdeling en die polisie bedank vir hul hulp om die brand in bedwang te bring. Ons het ook deurlopend kontak met van die inwoners om hulle op hoogte van sake te hou,” het O’Neill gesê.
Met Wêreldbrandveiligheidsdag wat op 8 Oktober gehou is, wil die owerhede in die Overberg graag hul rol in die bestuur van brande herbevestig.
Die verskillende munisipaliteite sê in ‘n verklaring hulle is in vennootskap met die natuurbewaringsowerheid Cape Nature en is verantwoordelik vir die bestuur van brande, wat alle oop velde, reservate en landelike gebiede oor die distrik heen raak.
Brande en die gevolge daarvan is ‘n tragiese, maar bekende werklikheid vir baie in die Overberg. Die munisipaliteite sê ‘n mens kan jou huis, gewasse en die lewe van jou geliefdes op baie maniere beskerm deur sekere basiese praktyke toe te pas.
“Brandbane en die verwydering van droë bosse en verouderde plantegroei rondom boorde, store en ander geboue kan verliese weens ‘n brand beperk. Grondeienaars moet seker maak brandbane word deurgaans in stand gehou. Nie alle veldbrande is sleg nie,” voeg hulle by. “Die unieke fynbos eie aan die Overberg vorm deel van ‘n brandgedrewe ekostelsel waar brande vir die regenerering van die spesies voordelig is.”
Kenners meen die spesies trek wel slegs elke 12 tot 15 jaar voordeel uit hitte, veroorsaak deur veldbrande. “Sommige veldbrande kom keer op keer in gebiede voor waar sosiaal verkeer word. Die brande lei tot die brand van ‘n jong veld waar die plante nog nie volwassenheid bereik het nie. Wanneer brande wel voordelig is, sal dit saam met Cape Nature gemonitor word om seker te maak die brande versprei nie en hou nie ‘n bedreiging vir die delikate ekosteselsel in nie.Verouderde bloekom- en denneplantasies, gebiede wat nie in stand gehou word nie, oop en onbewoonde lande, indringerplantegroei en onwettige afvalstorting bly problematies vir brandbestryders.”
Die paaie rondom Gansbaai is nog oop, maar volgens die OM kan dit op kort kennisgewing gesluit word.





