Die man wat daarvan aangekla is dat hy
die verwoestende brande in 2019 veroorsaak het
wat altesaam 41 huise en duisende hektaar veld verwoes het, is agter tralies
nadat hy sy borgtogvoorwaardes verbreek het.
Adjudant-offisier
Martin Mostert, woordvoerder vir die Kleinmond-polisie, het bevestig dat Sheldon April verlede week
in hegtenis geneem is en in die Caledon-landdroshof verskyn het.
“April het op Vrydag
16 April in die Caledon-landdroshof verskyn. Daar is bevind dat die beskuldigde
sy borgvoorwaardes verbreek het. Hy sal na verwagting in aanhouding bly totdat
die verhoor afgehandel is,” het Mostert berig.
April is op 3
Januarie 2019 in hegtenis geneem in verband met die verwoestende brand wat kort
ná middernag op
1 Januarie 2019 in die berge bo Bettysbaai
uitgebreek het. Hy het na bewering noodfakkels afgevuur wat daartoe gelei het
dat die veldbrand ontstaan het.
Brandweerbeamptes
het vir ongeveer twee weke gespook om die verwoestende brand wat 41 huise
vernietig en talle ander beskadig het, in bedwang te bring.
April staar
aanklagte wat verband hou met die oortreding van die Nasionale
Omgewingsbewaring Wet in die gesig. Indien hy skuldig bevind word staar hy ’n
boete van R10 miljoen of gevangenisstraf van nie meer as tien jaar nie of albei in die gesig.
Hoewel die staat borgtog teengestaan
het, is April op borgtog van R5 000 vrygelaat.
Van die borgtogvoorwaardes was dat hy nie met
getuies in aanraking mag kom nie en dat hy onder huisarres by sy suster in
Eersterivier moet bly.
April sal Dinsdag
11 Mei weer in die hof verskyn.