Brande
Brandbestryders het dae gewerk om die brande in bedwang te bring.

Die brande wat al meer as 38 000 hektaar in die Overberg verwoes het, die lewe van ‘n tier by Panthera Big Cat Sanctuary buite Stanford geëis en menige inwoner dakloos gelaat het, het die aandag van baie gelok.

Baie inwoners het op Facebook gereageer oor die moontlike oorsake van die brand, maar onlangse bewyse wat deur die Overstrand-munisipaliteit ontvang is, blyk dat die vernietigende vlaag brande wat die streek teister, die handewerk van brandstigters kan wees. Dit volg ná die inhegtenisneming van drie verdagtes en die onlangse ontdekking van verdagte toerusting naby brandgebiede.

Die jongste voorval was op Maandagaand (12 Januarie) toe ‘n oplettende lid van die publiek ‘n rookwolk naby die Stanford-begraafplaas opgemerk het. Danksy die getuie se vinnige reaksie is ‘n 23-jarige vrou glo op heter daad betrap terwyl sy besig was om ‘n vuur aan te steek, saam met twee manlike medepligtiges van onderskeidelik 15 en 20 jaar oud. “Hy het gesien hoe ‘n vroulike ver-dagte oor ‘n heining spring en het wetstoepassers onmiddellik ontbied terwyl hy self die vuur probeer blus het totdat die brandweer opgedaag het,” het die munisipale bestuurder van die OM, dr. Dean O’Neill, gesê. Die vroulike verdagte is ingevolge die Wet op Veld- en Bosbrande (Wet 101 van 1998) aangekla en het haar twee manlike medepligtigdes aan die owerhede uitgewys. Al drie verdagtes is tans in aanhouding by die Stanford-polisiekantoor.

Wat die spanning verder verhoog het, was ‘n petrolkan, wat tussen die fynbos by Blue Water Bay by Pearly Beach was, verlede week deur ‘n ander oplettende inwoner ontdek is.

Die Overstrand-munisipaliteit het in reaksie op die erns van die bedreiging ‘n geldelike beloning aangekondig vir inligting wat tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van dié wat aan die brandstigting skuldig is, lei.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article