‘Brandweer was nie traag’, dui ondersoek na onthullings

’n Onlangse ondersoek deur Enviro Wildfire in die Kleinmond-brand het bewys dat die brandweer nie traag was om te reageer tot die brand nie.


’n Onlangse ondersoek deur Enviro Wildfire in die Kleinmond-brand het bewys dat die brandweer nie traag was om te reageer tot die brand nie.

Die brand het op 8 Januarie ontstaan en meer as 5 000 hektaar se plantegroei is afgebrand. Ná puik werk deur die brandweer is niemand in die brand dood nie. Die ondersoeke het ook gevind dat die brand veroorsaak is deur die nalatigheid van mense wat die departement van bosbou, visserye en die omgewing (DFFE) se eiendom betree het, onwettig hout gaan kap het en ’n vuur gemaak het, wat buite beheer geraak en die brand veroorsaak het.

Kosblikkies en ’n kookpot, wat kos-oorblyfsels ingehad het, is op die plek waar die brand ontstaan het, ontdek.


Gemeenskap kla oor brandweer se stadige reaksietyd

Inwoners pak die skuld in verskeie briewe wat aan dr. Annelie Rabie, burgemeester van die Overstrand-munisipaliteit, gestuur is, op die Overstrand-brandweer wat “nie vinnig genoeg op die brand reageer het nie”.

“Die mense het gekla die brandweer het nie vinnig genoeg opgedaag om die brand te begin bestry nie. Dit is nie waar nie, en die ondersoek het dit bewys,” sê Rabie.

’n Veiligheidswag by die Arabella-landgoed het Saterdag 8 Januarie omstreeks 03:35 groot rookwolke aan die oorkant van die pad binne DFFE se plantasies gesien.

“Teen 04:00 was die brandweer op die toneel besig om die vlamme in bedwang te kry. Hulle was nie traag nie; hulle het betyds gereageer,” sê Rabie.


Minister Creecy moet sokkies optrek

Die burgemeester sê die ondersoek oor die brand het die munisipaliteit se vermoede – dat DFFE nie genoeg doen om sy grond te beskerm nie – bevestig.

“Barbara Creecy, die minister van bosbou, visserye en omgewingsake, moet besef dit is DFFE se verantwoordelikheid om na sy grond om te sien. Die grond het geen veiligheidswagte nie. Dis ’n stuk grond waartoe enigiemand toegang kan kry. Dis waarom hout al jare onwettig daar gekap word,” sê dr. Rabie.

Sy noem ook dat die Overstrand-munisipaliteit nie jurisdiksie oor die grond het nie, dus kan hy dit nie beskerm nie.

“Ek hoop die minister doen iets aan die situasie, want só kan dit nie aangaan nie.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.