“Dankie Arne, Alwyn en Dries. Dit was so lekker en julle roete is baie mooi skoon en baie lekker. Hoop ons gaan nog baie parkruns hê.”
Só lui een van vele opmerkings wat Saterdag 29 Januarie ontvang is na afloop van Bredasdorp se heel eerste parkrun sedert alle parkrun-inisiatiewe wêreldwyd en landwyd twee jaar gelede gestaak is. Die Covid-19-pandemie het aan die begin van Maart 2020 ‘n stokkie kom steek voor hierdie gewilde draf- of stapsessies waaraan enigiemand, ongeag fiksheidsgraad en ouderdom, Saterdae kon kom deelneem.
Alhoewel individue steeds hul eie oefenlopies kon doen en aanteken, is die groenlig gegee waar atlete weer amptelik aan die parkrun kan deelneem. Waar Bredasdorpers ook eers ‘n nuwe roete moes vind en uitlê aangesien die gevestigde roete langs die die plaaslike gholfbaan nie meer beskikbaar was nie, het dit ook effens langer geneem om weer koers te kry as die ander dorpe.
Dorpenaars het Saterdagoggend se uitnodiging om die oefenlopie te kom meemaak op die roete bokant die dorp se opgaardam, met albei arms aangegryp en dit is ‘n bewys dat Bredasdorp-parkrun nog springlewendig en net so gewild is as die begin. Saterdag 5 Februarie gaan Bredasdorp se heel eerste volwaardige parkrun op die nuwe roete plaasvind.
Al raad aan voornemende deelnemers is die volgende: “Kyk net mooi en volg die rigtingwysers, dan kan jy nie verkeerd gaan nie!”