“Dankie Arne, Alwyn en Dries. Dit was so lekker en jul roete is baie mooi skoon en lekker. Hoop ons gaan nog baie parkruns hê.”
Só lui een van vele opmerkings wat Saterdag 29 Januarie ontvang is na afloop van Bredasdorp se heel eerste parkrun sedert alle parkrun-inisiatiewe wêreldwyd en landwyd twee jaar gelede gestaak is.
Die Covid-19-pandemie het aan die begin van Maart 2020 ’n stokkie gesteek voor hierdie gewilde draf- of stapsessies waaraan enigiemand, ongeag fiksheidsgraad en ouderdom, Saterdae deelneem. Hoewel individue steeds hul eie oefenlopies kon doen en aanteken, is die groenlig gegee vir atlete om amptelik aan die parkrun te kan deelneem.
Aangesien Bredasdorpers eers ’n nuwe roete moes vind en uitlê aangesien die gevestigde roete langs die plaaslike gholfbaan nie meer beskikbaar was nie, het dit effens langer as die ander dorpe geneem om weer koers te kry.
Dorpenaars het Saterdagoggend se uitnodiging om die oefenlopie bokant die dorp se opgaardam mee te maak, met albei arms aangegryp – ’n bewys dat die Bredasdorp-parkrun nog springlewendig en net so gewild is soos aan die begin. . Bredasdorp het Saterdag (5 Februarie) sy heel eerste volwaardige parkrun op die nuwe roete aangeied.