Die wag is verby en klubrugby kan weer
vriendskaplike wedstryde in hul streek begin speel.
Die besluit is onlangs
gemaak deur Boland-rugbyunie (BRU) om plaaslike rugbyklubs toe te laat om weer
teen mekaar te speel.
Bennie van Rooi, die nuwe
president van die BRU sê die besluit is noukeurig deurdink en hy beveel spelers
en afrigters aan om alle Covid-19-protokols te volg.
“Vriendskaplike wedstryde
skop van 19 Junie af, maar die klubs kan net in hul onderskeie streke deelneem.
Omdat daar so baie nuwe positiewe gevalle van Covid-19 is, mag die klubs net in
hul eie streke speel,” sê Van Rooi.
Die BRU het ook besluit
om alle munisipaliteite per e-pos in kennis te stel oor die besluit en dat die
unie toestemming gee dat rugbywedstryde weer mag plaasvind.
Die BRU gaan ook die
klubs inlig oor wat hulle mag en nie mag doen nie.
Die BRU noem ook dat dit
belangrik is dat al die klubs wat nog nie hul Covid-19-sertifikate ontvang het
nie, nie mag rugby speel nie. Alle klubs sal eers hul fiksheid van vier weke
moet doen en dan hul vier weke kontak oefeninge voordat daar rugby gespeel kan
word.
Die unie herinner ook die
klubs dat, indien daar enige positiewe gevalle na wedstryde bekend gemaak is,
moet die unie hieroor ingelig word.
Volgens Van Rooi is dit
belangrik dat al die klubs die Covid-19-regulasies moet volg en indien dit nie
gevolg word nie sal die BRU wedstryde onmiddellik stop.