Australië het dalk sy eie Neil the Seal wat inwoners in Tasmanië vermaak, maar Onrus se spesiale gas, Buffel, is ook besig om soos Neil nie net ’n sosialemediasensasie te word nie, maar ook ’n smaakmaker (influencer).
Buffel is ’n olifantrob wat al ’n bekende aan die Kaapse kus is – hy was al te sien in Vishoek, Houtbaai, Diasstrand en nou hier in Onrus. Die vredeliewende rob met sy meer as 1 200 kg-lyf lê uitgestrek op Onrus se strand en dit lyk asof hy sonbaai, maar eintlik is hy – volgens Meredith Thornton, ’n voormalige navorsingskoördineerder van die Dyer-eiland-bewaringstrust – besig om te vervel. Dit is ook nie vreemd vir olifantrobbe om hierdie proses te ondergaan nie. Volgens kenners verloor hulle tydens die proses nie net hul hare en naels nie, maar ook baie gewig aangesien hulle nie eet nie en net op hul vetreserwes staatmaak.
“Net die tyd sal leer of ons bevoorreg gaan wees om hom vir ’n rukkie by ons te hê. Intussen moet ons hom sy ruimte gee en seker maak dat ons hom nie hinder nie. Hy is in staat om na homself te kyk. Moenie hom probeer terugjaag see toe nie,” sê sy op haar Facebookblad.
Volgens kenners kom Buffel eintlik van Marion-eiland af, wat sowat 1 200 km van Kaapstad is. Hy het glo sy naam gekry omdat hy in November 2014 in Buffelsbaai met die nommer 16577 gemerk is.