As daar nou een onderwerp is wat meer aandag kry as die onlangse staatsrede deur president Cyril Ramaphosa en Bafana Bafana se derdeplekoorwinning by die Afrika-beker, is dit Buffel die olifantrob, wat hom op Onrus se strand kom tuismaak het.
Mense kom van heinde en ver om hom te sien en selfs Steve Kirkman, wat Buffel 10 jaar gelede in Buffelsbaai raakgeloop en hom só “gedoop” het, het hom kom besoek.
Hermanus Times is met oproepe oorval oor die nuwe, bekende “inwoner” en Kathy van der Straaten het foto’s van ’n jong olifantrob gestuur, wat sy op 7 Februarie 2015 geneem het. “Ek weet nie of dit Buffel was nie, maar dit kan nie toeval wees dat ’n olifantrob nege jaar later op dieselfde tyd weer ’n draai in Onrus maak nie,” het sy gesê.


Meredith Thornton, ’n voormalige navorsingskoördineerder van die Dyer-eiland-bewaringstrust, het bevestig Buffel was destyds ook op Onrus se strand. “Buffel was die enigste olifantrob wat destyds op die strand was; dit kan dus net hy wees,” het sy bevestig.. Buffel was al te sien in Vishoek, Houtbaai, Diasstrand en nou hier in Onrus en is besig om te vervel. Dit is nie vreemd vir olifantrobbe om hierdie proses te ondergaan nie. Volgens kenners verloor hulle in die proses nie net hul hare en naels nie, maar ook baie gewig aangesien hulle nie eet nie en net op hul vetreserwes staatmaak.
Buffel kom eintlik van Marion-eiland af – sowat 1 200 km van Kaapstad. Hy het glo sy naam gekry omdat hy in November 2014 in Buffelsbaai met die nommer 16577 gemerk is.