Dit is ’n hartseergesig wat jou begroet as jy in Die Glaskasteel in Bredasdorp instap – kinders dwaal verward rond, ma’s met babas slaap op die grond terwyl kleuters hulself in die saal besig hou.
Dié situasie het langer as ’n week geduur nadat geweld teen buitelanders op 24 Maart in Zwelitsha in Bredasdorp uitgebreek het. Volgens ’n handjievol Xhosa-inwoners van dié buurt is hulle ongelukkig omdat buitelanders sonder geldige permitte na Zwelitsha stroom en werk deur sake-eienaars aan dié buitelanders gegee word. Verdere griewe sluit in onvoldoende sanitasiegeriewe in Zwelitsha vir die aantal mense in die gebied, onwettige sjebiens en dwelmhuise wat aan die toeneem is nadat die gebied deur buitelanders betrek is, en huise wat aan buitelanders verhuur word.
Nadat geweld teen buitelanders uitgebreek het, het die munisipaliteit ingegryp en die mense in Die Glaskasteel en die moskee gehuisves.
“Ons is baie dankbaar vir die geleentheid om veilig te slaap en kos te kry,” het ’n Zimbabwiër, wat al van 2009 in Bredasdorp bly en nie sy naam genoem wil hê nie uit vrees vir sy lewe, gesê. “Ons het na Suid-Afrika gekom om vir ons nuwe heenkome te kom soek, want in Zimbabwe is daar nie werk nie en kos is baie skaars.”
Volgens hom is hulle nie op soek na moeilikheid nie, maar wil net vir hul families voorsien. Olivia, ook ’n Zimbabwiese burger en ’n enkelma, vertel die geweld teen hulle was vreesaanjaend. Met haar babatjie in die arms vertel sy hoe sy die afgelope drie jaar in Bredasdorp werk om kos op die tafel vir haar kinders te sit, maar die afgelope tyd het dit vir hulle gevoel asof hulle terug in die hel van Zimbabwe is. Op ’n vraag of sy na haar geboorteland wil terugkeer, het sy geantwoord: “Nee! Ek sal die geweld in Bredasdorp eerder trotseer as die armoede en hongersnood in Zimbabwe.”
Doreen, nog ’n ma, wat met haar babatjie weerloos in die saal geskuil het, vertel sy werk al van 2014 af as huishulp in Bredasdorp. “Hierdie is my nuwe huis, die plek waar ek en my man na ons gesin kan omsien. My man was gelukkig om vanoggend werk toe te gaan, maar ek moet na die kinders kyk,” vertel sy.
Met Hermanus Times se besoek by Die Glaskasteel het die Anglikaanse Kerk onder leiding van biskop Margaret Vertue van Valsbaai en die plaaslike priester Francois Lewis sowel as priester Patty Edward van Caledon saam met Delene Mark en Jeanett Dick van Hope Africa nie net kos uitgedeel nie, maar ook inkleurboeke en vetkryte vir die kinders. “Ons is jammer dat so iets met julle moet gebeur; ons wil julle hoop gee en saam met julle bid,” het Vertue gesê. “Ons moet hierdie onnodige geweld stop. Almal is welkom in Bredasdorp.”
Volgens biskop Vertue het sy besef die vlugtelinge het nie net geestelike ondersteuning nodig nie, maar ook sielkundige ondersteuning. “Ons kan vir hulle die geestelike ondersteuning gee. Ons kan vir hulle bid en hulle selfs kos gee, maar met die emosionele littekens kan ons nie help nie,” vertel sy.
Die munisipaliteit, by monde van sy burgemeester, Paul Swart, het onverpoos gewerk om die situasie tussen die inwoners en die buitelanders te ontlont. “Verlede Sondag en Maandag het die Menseregtekommissie onder leiding van Chris Nissen, kommissaris van die MRK, onderhandelinge met die inwoners gevoer. Dit is ’n proses en hulle maak vordering. Danksy die polisieteenwoordigheid is die situasie nou baie rustiger,” het Swart Woensdag in ’n stemboodskap gesê. Volgens Nissen het die meeste inwoners op die vergaderings laat blyk hulle wil die Zimbabwiërs terughê. Hy sê gerugte doen die ronde dat Lesotho-inwoners van Roberton na Zwelitsha “aangery is” om die gemeenskap verder teen die buitelanders aan te hits.
Die munisipaliteit het gesê die verblyf by Die Glaskasteel is nie volhoubaar nie en hy glo die mense sal binnekort terug in Zwelitha wees. Die mense het Vrydag (1 April) na hul huise begin terugkeer en volgens die munisipaliteit was die meeste Sondag terug in hul wonings.