Busramp van 1972 só onthou

Hoewel dit 50 jaar gelede gebeur het, is 11 Junie 1972 ’n datum wat min inwoners van Mount Pleasant gou sal vergeet.


Hoewel dit 50 jaar gelede gebeur het, is 11 Junie 1972 ’n datum wat min inwoners van Mount Pleasant gou sal vergeet.

Die gemeenskappe van Mount Pleasant en Hawston is 50 jaar gelede in rou gedompel toe 53 mense gesterf het nadat die bus waarin hulle vanaf die Paarl terug Mount Pleasant toe gereis het, oor ’n brugreëling gestort en in die Riviersonderendrivier buite Villiersdorp beland het.

Rugbyspelers, tennisspelers en ondersteuners, pa’s, ma’s en kinders is met een slag uitgewis. Sommige families het tot vyf geliefdes in hierdie treurspel verloor.

Die A-span-kaptein, Japie Seconna, het die tragedie oorleef omdat hy na die wedstryd teen Rangers van die Paarl na Stellenbosch gereis het.

Seconna het in ’n brief wat Sondag voorgelees was tydens ’n spesiale gedenkdiens wat deur die Atlantics-rugbyklub gehou is, gesê sy wens is dat sy as eendag oor die massagraf in Mount Pleasant, waar 47 van die slagoffers begrawe is, gestrooi moet word.

“Om die klub 50 jaar staande te hou ná so ’n groot verlies van kranige jong spelers, het ook ’n geweldige opoffering van almal geverg, die samewerking van almal was nodig. Wees verseker die beloning kom as jy volhard in die stryd,” was Seconna se boodskap aan die gemeenskap.

Wilfred Gibson, wat in 1972 die span se afrigter was, het ook vertel hoe hy die ramp vrygespring het nadat hy die bus verpas het omdat hy iemand Riviersonderend toe moes vat. Die volgende dag, het hy vertel, het Eric Gillion in sy plek met ’n rygeleentheid Paarl toe gegaan. Gillion het ook in die busramp gesterf.

Gibson het vertel hoe die rugbyklub na die ramp twee spanne weer moes opbou en ’n nuwe bestuur moes kies.

Eugene Andries, voorsitter van Paarl Rangers, het in sy spreekbeurt gesê die busramp sal altyd deel van hul geskiedenis wees aangesien die twee spanne ’n noue band gehad het en Rangers op die noodlottige dag die gasheer vir die sportmanne en -vroue van Mount Pleasant was.

Die Overstrand-burgemeester, dr. Annelie Rabie, het in haar spreekbeurt simpatie betuig met almal wat geliefdes in die busramp verloor het en gesê sy neem David Coert se wens dat ’n spesiale herdenkingstoernooi tussen Paarl Rangers en Atlantics plaasvind, ter harte. Rabie het onderneem om die reiskostes te dek en die beker te skenk.

Na afloop van die diens in Mount Pleasant Primêr se skoolsaal het die skare na die Mount Pleasant-begraafplaas beweeg waar blomme by die massagraf gelê is.Massagraf

Willem, Magdalene, Ivan en John April en hul broer Stephen Philander, Paul en Maria Claasen, Willem du Plessis, Hendrik du Plessis, Christopher Plaatjies, Cornelia en Johnny Robyntjies, Olga Arends, Fredel Swarts, Mervyn van der Berg, Jennifer Coxson, Elize Appel, Fred Jacobs, Audrey Poole, Henrietta Pietersen en haar dogters Henrietta (jnr) en Francis Pietersen, Joseph Minnaar, Daniel Jansen, Matteus Davids, Louise Ross, Eric Gillion, Clifford van Nieting, Daniel Petersen, Felicity Benjamin, Brian Williams, Desmond, Gabriel en Colin Montague, Maria en Frederick Behr, Apollis Frans en Jan Frans, Anita Wentzel, Prins Arendse, Karel Coert, Karel Adams, Mercia Aplon, Ronald Petersen, Irene Seconna, Andrew Minnaar en Maria Davids is in Mount Pleasant te ruste gelê.

Die busbestuurder Daniël Plaatjies, Gabriël Plaatjies, Willem Plaatjies, Velia Marais en Esmerelda Isaacs is in Hawston begrawe.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.