Terwyl amptenare van die Theewaterskloof-munisipaliteit spog oor ’n swembad vir Villiersdorp, kry inwoners van Rooidakke in Grabouw baie swaar.
Nie eers ’n maand gelede het dié inwoners vir weke aaneen geen water gehad nie, maar die toestande in die buurt is behoorlik haglik.Motors kan skaars op die paaie ry en vullis lê rond en bont op die oop stuk veld buite Rooidakke gestrooi asook in die buurt self. “Dit voel of ons buurt aan die agterspeen suig. Eers het ons nie water gehad nie en nou die toestand van ons paaie en buurt. Dis onaanvaarbaar en die munisipaliteit moet iets hieraan doen,” het een inwoner gesê.
’n Ander inwoner, wat nie sy naam genoem wil hê nie, vertel dat oor naweke kan ’n mens skaars in Rooidakke ry. “Oor naweke is dit behoorlik ’n nagmerrie om die paaie te gebruik. Taxi’s blokkeer die paaie en ons kan hulle nie verbysteek nie aangesien van die paaie glad nie toeganklik is nie. Die slaggate is so diep dit sal permanente skade aan jou voertuig verrig,” het ’n inwoner gesê. “Verder voel dit vir ons as inwoners of ons geld nie goed genoeg is vir TWK nie. Ek weet hier is mense wat glad nie belasting betaal nie asook glad nie water en elektrisiteit nie, maar hier is ook mense wat trots daarop is om in Rooidakke te bly en belasting, krag en water betaal. Waarom word ons afgeskeep?” vra die ontstoke inwoner.
Hermanus Times het verlede week vrae rakende die situasie aan TWK gestuur en teen druktyd is daar nog geen terugvoering ontvang nie.