AfriForum se Alfa-buurtwag het sy nuwe brandweerwa in Januarie op die proef gestel en gehelp om die verwoestende brande in die Overberg te blus en sodoende gemeenskapslede en hul eiendom te beskerm.
Sowat 25 000 ha het in die Kaapse Wynlande afgebrand, terwyl omtrent 6 000 ha tussen Pringlebaai en Bettysbaai in die slag gebly het. Die brande het bykans 6 000 ha in Wolseley verwoes.
Lede van die Alfa-buurtwag, met Lourens Theron wat die voortou geneem het, het nie gehuiwer om in samewerking met die brandweer en ander rolspelers op enige manier moontlik hulp te verleen nie.
Die Overstrand-tak het ook 300 individuele sakkies oogdruppels aan die brandweer geskenk om hulle te help om dié gevaarlike en belangrike diens voort te sit.
Die Alfa-buurtwag het in Januarie ook die polisie en private veiligheidsmaatskappye gehelp om die gemeenskap teen misdaad te beveilig. Sewe mense is met die hulp van dié buurtwag in hegtenis geneem nadat op gesteelde goedere en gevaarlike wapens beslag gelê is.
“Ek is opreg dankbaar aan elke Alfa-buurtwaglid sowel as die plaaslike brandweer, brandvoorkomingsorganisasies, veiligheidsmaatskappye en die publiek wat hul eie veiligheid tweede stel sodat hulle die gemeenskap kan veilig hou,” sê Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.
AfriForum se Overstrand-tak en die Alfa-buurtwag speel ’n geweldig belangrike rol in die gemeenskap en die beveiliging daarvan. Die lede se patrollering en ondersteuning wat hulle aan die polisie, ander veiligheidsmaatskappye en die munisipaliteit bied, maak daadwerklik ’n verskil aan die gemeenskap en dit gaan baiekeer met geen erkenning of dank gepaard.
Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by AfriForum se Overstrand-tak en die Alfa-buurtwag aan te sluit. Stuur e-pos na overstrand@afriforumtak.co.za vir nog inligting.