Nie eens die koue weer en reën die afgelope naweek kon rugbyspelers en ondersteuners se gees blus nie.
Verskeie spanne het mekaar die stryd aangesê in pogings om hul stand op die Overberg-grootuitdaagbeker-punteleer te verbeter. Caledon se Anne Level-span kraai steeds koning boaan die punteleer met Hawston Skrik vir Niks tweede en Bredasdorp Rangers derde.
Caledon se A-span het sy tuisveldvoordeel behoorlik gebruik en Atlantics van Mount Pleasant 41-10 geklop. Hawston het sy teenstanders van Kleinmond 24-10 oorwin en Rangers van Bredasdorp het korte mette met Genadendal gemaak en 57-17 in dié wedstryd geseëvier.
Safcol het bewys wat in hom steek en Grabouw 18-9 geklop. Black Leaves van Gansbaai moes egter die knie buig en Botrivier het dié wedstryd met die telling 19-17 beklink.. Dié naweek (Saterdag 6 Augustus) sê Atlantics vir Hawston die stryd op Mount Pleasant se sportterrein aan. Caledon sal na Grabouw reis vir sy wedstryd teen Grabouw en Safcol sal op Genadendal se veld teen Genadendal te staan kom. Die spanne van Kleinmond en Botrivier sal in Botrivier speel terwyl Rangers na Gansbaai reis vir sy kragmeting teen Black Leaves.