Ounooi van Straten saam met Cornel Roux van Caledon-dieresorg met die honde- en katkos wat Ounooi aan die dieresorg geskenk het.

Caledon-dieresorg het onlangs ‘n baie welkome meevaller ontvang toe Ounooi van Straten van Hillside-plaas buite Caledon aan hulle ‘n groot hoeveelheid dierekos geskenk het.

Ounooi het aan Hermanus Times vertel: “Ek het met my onlangse verjaardag my vriende gevra om nie vir my geskenke te koop nie, maar eerder ‘n skenking vir Caledon-dieresorg te gee. Met dié ruimhartige skenkings kon ek ‘n groot hoeveelheid honde- en katkos koop, wat ek aan Caledon-dieresorg oorhandig het.” Ounooi sê sy sien gereeld foto’s van maer en dikwels verwaarloosde honde op die dieresorg se sosialemediablad en het toe besluit om te help deur kos te skenk.

Sy het op haar 70ste verjaardag ses jaar gelede iets soortgelyks gedoen en die skenkings wat sy toe ontvang het, is aangewend om honde en katte te steriliseer. Ounooi en haar man, Sam, het vroeër vanjaar twee hondjies deur Caledon-dieresorg aangeneem. “Hulle is pragtige honde wat nou deel is van die establishment hier.”

Caledon-dieresorg het hul opregte dank teenoor Ounooi uitgespreek. ‘n Groot nood bestaan om diere te help en die skenking word opreg waardeer. Aangesien nie almal ‘n groot sak dierekos – wat baie duur is – kan bekostig nie, word van hierdie kos in kleiner, bekostigbare pakkies opgemaak en by die Dieresorgwinkel in Donkinstraat verkoop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article