Die derby Saterdag tussen Safcol en Grabouw het weer ’n groot skare gelok. Safcol het die wedstryd 72-24 gewen. Foto: Mariëtte Strydom


Waar dit voorheen Hawston Skrik vir Niks en Safcol was wat na die top-12 van die Boland-Grootuitdaagbeker deurgedring het, is dit vanjaar Safcol en die span van Caledon, met Caledon wat boaan die punteleer is.

Ná al die reën die afgelope tyd het rugbyondersteuners die rugby, son en samesyn geniet en na die naweek se Overberg-rugbywedstryde gestroom. Die onderskeie spanne het hulle alles gegee om na die top-12 deur te dring, maar op die ou einde is dit die twee spanne wat deur die seisoen gewys het om met bonuspunte te wen, kan die deurslag gee.

Met nog net twee wedstryde oor voor die uitspeelwedstryde vir die top-12, kan die bordjies nie meer verhang word nie en sal dit Safcol en Caledon wees wat die Overberg in die eindstryd gaan verteenwoordig.

Botrivier se oorwinning sonder ’n bonuspunt teen Hawston (32-28) beteken hy kan nie die top-12 haal nie, al wen hy sy oorblywende twee wedstryde met bonuspunte en al verloor Safcol sy wedstryde, want die punteverskil tussen Safcol en BotlaFire is te groot. Soos een van die Facebookgebruikers sê: “In plain Afrikaans – Botla speel sy laaste twee wedstryde net vir koek en tee.”

Caledon speel die naweek sy laaste wedstryd teen Rangers en ’n oorwinning teen die span van Bredasdorp gaan beteken dat hy die Overberg-wenner is.

Safcol het vanjaar harde bene gekou en die span van Grabouw kan wel boaan die punteleer eindig as hy Saterdag teen Kleinmond wen en Rangers die span van Caledon ore aansit.

Riviersonderend, wat nadat hy twee jaar gelede vir die Grootuitdaag gekwalifiseer en ’n opdraandestryd gevoer het, het Saterdag vyf punte in die sakkie gehad nadat hy Genadendal 44-19 gewen het. Kleinmond het die span van Bredasdorp 30-14 geklop terwyl Safcol ’n wegholoorwinning in die derbywedstryd teen Grabouw gehad en 72-24 gewen het. Caledon het ’n loslootjie gehad.

Die puntestand vir die Grootuitdaagbeker in die Overberg lyk soos volg: Caledon (81), Safcol (78), BotlaFire (68), Hawston Skrik vir Niks (62) Kleinmond (54), Grabouw (44), Bredasdorp Rangers (44), Villiersdorp (39), Riviersonderend (38), Genadendal (20) en Bereaville (13).

Die top-driedrukkers van die Overberg in die Grootuitdaagbekerreeks tot dusver is PJ Bester (Caledon), Terence Ludix (Safcol) en Fagan Slinger (Botrivier). Die spelers wat die meeste punte aangeteken het, is Brenton-Lee Dickson (Hawston), Jurich Claasens (Safcol) en Lorenzo Swart (Caledon).

You need to be Logged In to leave a comment.