Groot opwinding heers onder spelers, ondersteuners en borge van Caledon-rugbyklub, wat hierdie naweek aan die Paastoernooi in Saldanha deelneem.
Caledon RFC is die enigste klub van die Overberg wat in hierdie toernooi kragte teen sewe ander spanne sal meet.
Caledon het in 2019 tweede in die topvier van die Boland-grootuitdaagbeker geëindig en hierdeur sy plek by die toernooi verseker. Saldanha het bo-aan die punteleer geëindig met Roses van Wellington derde en die span van Darling vierde.
Liaan King, voorsitter van Caledon RFC, sê hoewel die pandemie dinge gekniehalter het, het die manne die afgelope paar weke hard geoefen om seker te maak hulle is vir dié naweek se toernooi in toptoestand. Hy sê heelwat veranderinge is aan die span aangebring in vergelyking met die span wat in 2019 as naaswenners in die Grootuitdaag geëindig het.
“Ons het baie nuwe spelers – veral jonger spelers. Rowan Henike is 19 en is ons jongste speler. Hy is ook die kaptein van die Boland se o.20-span. Ons het ’n goeie balans tusen ervare en jonger spelers, wat opwindende aanvallende rugby tot die spel bring,” sê King.
Caledon RFC vertrek môre (Donderdag 14 pril) na Saldanha. Die span se eerste wedstryd is teen Progress, die topklub in die Oos-Kaap. “Hul spelers is taamlik groot en fisiek, maar ons glo ons kan hulle match. Die span sal op skrumwerk fokus aangesien die vaste fasette van die wedstryd baie belangrik is en dit bepaal hoe goed jou span gaan vaar,” sê King.
Die spanne sal Vrydag ’n blaaskans hê voordat hulle Saterdag weer op die veld uitdraf. Die wenners van Saterdag se wedstryde sal Maandag in die kwart-, half- en eindronde meeding.
Wat die toernooi nog meer opwindend maak, is die feit dat die wedstryde op SuperSport uitgesaai gaan word. “Dit gaan goeie blootstelling vir ons wees.”
King het al die borge en ondersteuners bedank. “Ons het gevra dat mense Donderdag (14 April) die span se kleure – groen en geel – dra om hul steun vir die manne te wys,” sê hy.
So, wys Donderdag jou steun vir die enigste span van die Overberg wat aan die Paastoernooi gaan deelneem en dra jou groen en geel met trots.