Oktober is Borskankerbewusmakingsmaand. Borskanker is die mees algemene kanker onder Suid-Afrikaanse vroue en volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) se register van 2019 loop een uit 27 vroue die gevaar om borskanker op te doen.
‘n Kankerdiagnose boesem dikwels vrees in by mense en baie mense kan, of wil, nie daaroor praat nie. Tog vind ‘n mens dat al hoe meer mense deesdae oor hul ervaring praat – veral om aan ander kankerlyers ‘n boodskap van hoop te bring.
Esther Möller, die uitvoerende bestuurder van Heidehof-tehuis vir bejaardes in Caledon, het haar kankerreis, wat heelwat onverwagse kinkels opgelewer het, met Hermanus Times gedeel.
“Ek het in Junie 2023 een oggend ‘n knop in my bors gevoel. Ek het yskoud geword, want dit was ‘n groot knop. Ek kon dit nie verstaan nie, want ek het gereeld selfondersoek gedoen. Ek het dadelik ‘n doktersafspraak gereël en weens die feit dat ek ‘n familiegeskiedenis van borskanker het, het ek baie vinnig ‘n afspraak vir ‘n mammogram gekry. Daarna is ‘n sonar gedoen en ek is meegedeel ek moet ‘n biopsie laat doen. Die wag vir die uitslag was senutergend, maar ná die skok het ek rustig geraak en met die Here gekommunikeer. Ek het nie ‘n goeie gevoel gehad nie en my uitslag met die diagnose, drievoudige negatiewe borskanker het ek op my verjaardag ontvang. Dié soort borskanker is nie hormonaal of geneties nie. Ek het net daar besluit ek gaan nie toelaat dat vrees my oorkom nie, want die Here het my nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie. Ek het gebid en vir die Here gesê ek is volkome in Sy hande.”
Esther sê sy is ‘n baie private mens, maar die Here het haar met ‘n doel by Heidehof geplaas. Sy moes ‘n openbare pad stap, want sy het verantwoordelikhede teenoor die inwoners en personeel. “Die onkoloog het gesê die kanker is in fase twee en dit is nie ‘n doodsvonnis nie, maar dié soort kanker is moeilik om te behandel omdat gewone chemo nie werk nie en dit reageer nie goed op bestraling nie. Chirurgie is eintlik die enigste oplossing. Omdat die knop so groot was, wou die mediese span dit tog met chemoterapie behandel. Hulle het die nuutste Amerikaanse inligting nagevors en in samewerking met ‘n Amerikaanse span die soort chemo bepaal.”
Esther sê sy het dadelik met weeklikse chemoterapie begin. “Ek het vier dae gewerk, Vrydae chemo gekry en die naweek gehad om te herstel. Ek het net ‘n bietjie haarverlies gehad en my smaak is aangetas. Ná die tweede of derde sessie het ek in die 11de minuut anafilakse gekry. Dit het in ‘n oogwink gebeur. Ek het dadelik noodbehandeling ontvang, maar dit het soos ‘n ewigheid gevoel en dit het gevoel asof ek ‘n beroerte kry. Met die volgende sessie het dit weer gebeur, maar dié keer was dit 10 maal erger as die eerste keer.”
Asof dinge nie reeds moeilik genoeg was nie, het Esther in dié tyd ook haar man verloor. “Ek het toe net op auto pilot mode gegaan,” sê Esther.
Aangesien die chemo nie veel gehelp het nie, het Esther ná drie weke ‘n dubble mastektomie ondergaan. Ná die herstel van die operasie het sy vir vyf weke daagliks bestraling ontvang. Toe Esther vir haar rekonstruksie-chirurgie moes gaan, het sy weer ‘n effense knop gevoel en gedink dis die weefselverspreider (expander) se punt wat sy voel. “Toe ek die uitdrukking op die dokter se gesig sien en hy vir my sê dis nie die expander nie, toe besef ek hier’s ‘n curved ball. Baie weefsel is van die kanker wat te- ruggekom het, verwyder en hulle kon nie ‘n expander insit nie.
“Die een kant is dus gedoen; die ander kant nie. ‘n Paar weke later het ek ‘n radikale mastektomie aan daardie kant ondergaan en ek moes laterale-flap-rekonstruksie kry en ‘n expander is weer ingeplant. Ek is in April vanjaar terug vir rekonstruksie en afronding. Nou is ek klaar met my operasies.
“Toe die chemo en bestraling gefaal het, het die onkoloog gesê daar is medies gesproke buiten die chirurgie geen verdere ingrypings wat hulle kan doen nie en het aanbeveel dat ek alternatiewe ondersoek. Ek is nou ook by ‘n holistiese dokter wat nou met my dokters saamwerk.
“Ek is tans in remissie en daarvoor is ek baie dankbaar. My geloof het my deurgedra. Dis ‘n pad wat ek met die Here gestap het. Toe ek besef wat voor my lê en met al hierdie terugslae het ek vir die Here gesê ek gaan nie toelaat dat vrees my oorheers nie. Jy het nie beheer oor die negatiewe gedagtes in jou kop nie, maar wel oor dit wat nesskop. Ek het deur die hele proses my vrees vir die dood verloor en ná die radikale mastektomie het ek aan myself gesê ek sal hierdeur kom. Ek hoop dat my pad ander sal inspireer; dat dit hoop sal bring; dat dit inkeer sal bring.”
Esther sê sy was stomgeslaan oor die ondersteuning wat sy gekry het. “Die beheerraad, familie, personeel, inwoners en die Caledon-gemeenskap het almal saamgestaan om my te ondersteun en te dra. Daar was soveel deernis en begrip en geen woorde kan genoeg dankie sê daarvoor nie.”
Esther noem ook dat hulle élke Vrydagoggend van haar 12 weke behandeling ‘n reënboog gesien het. Ter afsluiting sê Esther: “Jy moet ‘n ondersteuningsnetwerk hê en daarom is dit belangrik om daaroor te praat – ook om ander vroue te bemoedig. Daar is altyd hoop.”





