Die gereelde vakansieprogramme wat die Caledon-biblioteek in samewerking met die Caledon-museum aanbied, is iets waarna kinders altyd uitsien.
Daar word interessante aktiwiteite aangebied en die ouers weet dat die kinders in veilige hande is. Tussen 26 en 28 Maart het die kinders ’n museumtoer onderneem, kuns-aktiwiteite by die biblioteek gedoen en deelgeneem aan ’n Paaseierskattejag.
Die skattejag wat in die Caledon-veldblommetuin sou plaasvind, is weens ongunstige weer na die Caledon-museum verskuif. Ds. Dewald du Toit het vir die kinders bietjie meer van die sin van Paasfees vertel voordat hulle paaseiers kon gaan soek in die Losie en die Museumhuis. Altesaam 51 kinders het met groot opgewondenheid aan die skattejag deelgeneem.
Gerhard van Wyk van die biblioteek het genoem dat die vakansieprogram baie suksesvol was en dat dit verblydend was om te sien dat die getal kinders wat deelneem met elke program groei.