Simon Jackson wat eerste oor die wenstreep was by die verjaardag-parkrun.Foto’s: Mitzi Buys


Caledon se eerste parkrun het op 22 April 2023 in gietende reën plaasgevind.

Verlede week – ’n jaar later; op 20 April – was die parkrun se roete by die Caledon-gholfklub op plekke in digte mis gehul. Soos die reën destyds deelnemers aan die eerste parkrun nie verhoed het om deel te neem nie, het die mis ook nie die 75 deelnemers wat aan die verjaardag-parkrun deelgeneem het, se entoesiasme gedemp nie – inteendeel, ’n feestelike atmosfeer het geheers.

Ds. Willem Lubbe, een van die organiseerders van die Caledon-parkrun, sê 2023 was ’n moeilike jaar om ’n parkrun in die Wes-Kaap te begin. “Dit het op die 37 Saterdae in die jaar waarin ons parkrun begin het, op 31 geleenthede gereën. Die gemoed van die span was soms laag, maar deursettingsvermoë en die samehorigheid het geseëvier. Dit het ons net nader aan mekaar gebring. Ons sien elke keer hoe dit ons gemeenskap goed doen om aan ’n parkrun deel te neem. Dit bring ons bymekaar en ons raak sommer goeie vriende,” sê Lubbe.

“In die eerste jaar is 46 parkruns met 865 deelnemers gehou. Omdat baie van die deelnemers die roete al verskeie kere afgelê het, het 2 297 dit voltooi. Die parkrun het op vyf geleenthede nie plaasgevind nie omdat gholfdae op drie geleenthede gehou is en twee keer moes dit weens weersomstandighede en stormskade gekanselleer word,” sê Lubbe.

Dikwels is deelnemers nie van Caledon nie, maar besoekers.

Dit was ook die geval met die verjaarsdag-parkrun wat deur Simon Jackson van Kaapstad gewen is.

Louis Massyn (73) en sy vrou, Rita, het op pad terug na hul tuisdorp George eers ’n draai gemaak om aan die Caledon-parkrun deel te neem.

Louis het die vorige naweek sy 47ste Twee Oseane-marathon voltooi en durf hierdie jaar sy 49ste Comrades-marathon aan. Albei is gesoute parkrunners, met Rita wat 289 parkruns agter die blad het en Louis kan met 253 spog.

Ter viering van die eerste verjaardag van die Caledon-parkrun is deelnemers agterna met koffie en heerlike kolwyntjies bederf.

Die parkrun vind elke Saterdag om 08:00 by die Caledon-gholfbaan plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.