Robert Hendricks met sy pa se befaamde saksofoon voor van die goue plate wat aan Bobby Hendricks toegeken is.Foto’s: Mitzi Buys


“In hierdie einste sitkamer waar ons nou sit het my pa en die orkeslede van Bobby Hendricks Sound elke Woensdagaand bymekaar gekom om te oefen. Al sewe lede en soms nog ’n buurman of twee ook, en dan het die huis behoorlik gedreun.”

Só vertel Hendricks se seun Robert in sy huis in Caledon wat eens aan sy pa behoort het. Robert Stuart Hendricks, alombekend as Bobby, is op 7 Februarie 1936 in Caledon gebore. Hendricks, ’n boukontrakteur van beroep, was nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in Namibië en Zimbabwe, bekend vir sy dansmusiek. Hy was die onbetwiste koning van langarm-musiek.

“My pa het as kind homself geleer om die saksofoon te speel. Hulle het destyds daar in Collegestraat gewoon en hy het in die badkamer geoefen totdat sy ma vir hom gesê het ‘Nee Bobby, nou raas jy darem te veel’. Dan het hy en sy maats na die geel dam opgestap, omtrent daar waar die Victoria Mall nou is, en daar geoefen en sommer bietjie geswem ook,” vertel Robert. “Nie een van die orkeslede kon musiek lees nie. Hier waar hulle geoefen het, was so ’n outydse hifi-stel. Hulle het ’n kasset ingesit en geluister, ’n paar keer ge-rewind en ge-forward en gewoonlik so teen 11 uur die aand het hulle die lied baasgeraak en op hulle kenmerkende wyse gespeel. Ek het dikwels in my nagklere vir hulle gesit en luister,” vertel Robert nostalgies.

“My pa was bekend vir langarm-musiek. Dis ons mense se musiek. Dansmusiek gemeng met musiek geskik vir ballroom dancing. Hulle tydsberekening was uniek en gepas vir ballroom. Straight forward sonder tierlantyntjies en daarom het mense soos Manny Gomez, SA ballroom-kampioen, my pa-hulle gevra om by kompetisies te speel.”

Hendricks vertel die orkes was baie gewild en het elke naweek opgetree.

“Hulle het baie by inkopiesentrums gespeel om mense te lok en elke organisasie wat geld wou insamel, het Bobby Hendricks Sound geboek.

“Wanneer die jaar begin het, was my pa se dagboek al vol vir die hele jaar bespreek. Manne het tou gestaan om te bespreek. Hulle het by troues gespeel en danse in die Caledon-stadsaal was veral gewild. Hulle het baie gery na verskillende geleenthede en dan in die vroeë oggendure by die huis gekom. Ek het hom menige Sondagoggend gekry waar hy nog met sy das aan, lê en slaap.

“My broer Garfield het by die Battle of the Bands in die Goeiehoop-sentrum bietjie tamboeryn saam met hulle gespeel. Ek was nooit deel van die orkes nie, maar het dikwels saamgegaan en dan sommer so agter die verhoog aan die slaap geraak. Twee van die groot toere na Namibië onthou ek baie goed. Ek het saamgegaan. Ons het in ’n kombi met ’n sleepwa gery.”

Hendricks noem dat hulle almal baie lief is vir dans en dat hulle stad toe moes ry om te dans. Toe besluit hulle om die Avenues-nagklub in Caledon te open.

“My pa was die dryfveer agter Avenues. Ons kon so 500-600 mense huisves en mense het van oor die Overberg gekom om hier te dans. Daar was ook die bekende midnight waar ons om middernag op Paassondag die deure geopen het en mense dan tot dagbreek gedans het. Ons het die nagklub vir 13 jaar gehad.”

Op ’n vraag oor watter lewenslesse hy van sy pa geleer het, antwoord Hendricks: “Een ding wat ek altyd sal onthou, is dat my pa gesê het: ‘Moenie jou geluk op ’n ander man se ongeluk bou nie.’ Hy het ook baie respek gehad vir my ma Coee en vir my en my broers Garfield en Bjorn geleer om vroue te respekteer. Hy het gelewe vir sy familie en lang ure gewerk om vir ons ’n goeie lewe te gee.”

Bobby was ook ’n kranige rugbyspeler. Hy was op die bestuur van die Progress-rugbyklub en een van die eerste spelers wat Protea-kleure verwerf het. Sy eerste langspeelplaat is in die vroeë jare tagtig bekendgestel en in die daaropvolgende 20 jaar is hy met vyf goue plate bekroon.

Hendricks is in 1999 aan nierversaking oorlede. In 2000 het die departement van omgewings- en natuursake hom postuum vir sy besondere bydrae tot die vermaak­likheidsbedryf vereer. Dieselfde jaar is ’n straat in Caledon na hom genoem.

Hendricks se begrafnis vanuit die Holy Trinity-kerk in Caledon was een van die grootstes ooit in die omgewing. Mense het van heinde en ver gekom om hul laaste eer aan dié legendariese musikant te betoon. Nie net was die kerk stampvol nie, maar die hele tuin rondom die kerk was ook vol. Robert sê: “Met sy begrafnis kon ek sien hoe ryk aan vriendskap hy was en watter diep spore hy getrap het.”

You need to be Logged In to leave a comment.