As die vier voorste spanne van die Overberg mekaar op die rugbyveld pak, dan kan jy maar weet dit gaan ’n aksiebelaaide dag wees waar rugby gaan seëvier.
En dit was presies wat gebeur het tydens die derde Overberg Challenge, wat deur Nissen Holdings aangebied is. Dit was ’n dag waarna jonk en oud uitgesien het en prysgeld van R40 000 vir die wenspan was op die spel. Die spanne wat mekaar op die rugbyveld gepak het, was Safcol van Grabouw (die verdedigende kampioen), Caledon, Hawston en Botrivier. Die twee plaaslike hoërskole Swartberg Sekondêr en Hawston Sekondêr het ook sake op die veld uitgespook.
Die eerste wedstryd tussen Caledon en Botrivier het behoorlik wipplank gery met Caledon wat ook ’n geelkaart gekry het. Botrivier het nog tot die einde van die wedstryd voorgeloop, maar Caledon het in die laaste minute van die wedstryd die gelykmakende drie gedruk.
Op die ou einde het die twee spanne gelykop met 31 elk gespeel, maar dit was Caledon wat deur is na die eindstryd. Die beslissing het behoorlik die sosiale media laat gons, maar volgens die organiseerders van die toernooi is die reëls op 27 Januarie aan al die spanne verduidelik. “As die wedstryd tydens die voorwedstryde gelykop eindig, word geen ekstra tyd gespeel nie, maar die wenner word dan bepaal volgens verlede jaar se punteleer. Maar die reël geld nie vir die eindstryd nie,” het Nissen Holdings in ’n persverklaring aangekondig.
Die tweede wedstryd van die dag was die span van Hawston, wat die verdedigende kampioen Safcol die stryd aangesê het. Die wedstryd is deur goeie hardlooprugby, verdediging uit die boonste rakke en goeie sportmangees gekenmerk, maar dit was Skrik vir Niks wat met die louere weggestap en Saffies net-net 25-20 geklop het.
Die ondersteuners kon nie wag vir die eindstryd tussen Caledon en Hawston nie.
Om die derde en vierde plek te bepaal, het Safcol en Botrivier mekaar gepak, maar dit was Saffies wat weer die beste veggees getoon en die wedstryd maklik 51-14 gewen het.
Die wedstryd waarvoor almal gewag het – om die wenner van die Overberg Challenge te bepaal – was tussen Caledon en Hawston. Dit is ook die eerste keer vandat die Overberg Challenge bekend gestel is dat Saffies nie in die eindstryd speel nie.
Halftyd was die span van Caledon 17-10 voor, maar met die aanvang van die tweede helfte het Hawston die bordjies verhang en ’n vinnige verdoelde drie gedruk asook ’n strafskop deur die pale geklits om die telling op 20-17 te bring. Caledon het met twee drieë geantwoord, waarvan een verdoel is, maar weens ongedissiplineerde spel is een van Callies se spelers met ’n rooikaart gestraf en moes Caledon die laaste 20 minute net met 14 man op die veld speel. Met die telling op 29-23 in Caledon se guns het Hawston in die hoekie gaan druk, maar ongelukkig was die doelskop onsuksesvol en Caledon het met 29-28 voorgeloop. Hawston het alles in sy vermoë gedoen om as wenners uit die stryd te tree en die bal lug gegee, maar dit was die vleuel van Caledon, Lee Windvogel, wat in die laaste minuut een van Hawston se balle onderskep en onder die pale gaan druk het, wat Callies die wenner van die toernooi gemaak het. Die eindtelling was 36-28 in Caledon se guns.
Die kaptein van Caledon, Stefan Fourie, het ná die wedstryd gesê dit was ’n senutergende wedstryd wat baie opwinding opgelewer het. “Ons het ons eerste beker gewen en nou moet ons net op en op gaan,” het Stefan gesê.
Swartberg Sekondêr het ook teen Hawston Sekondêr in een van die voorwedstryde kragte gemeet, maar Hawston het daardie wedstryd gewen.
In nog ’n voorwedstryd tussen die twee klubs Young Eagles Bereaville en Bishop Lavis was dit die span van Bereaville wat gewen het.. Die organiseerders bedank die volgende mense: Ds. Gerome Haupt van die VG kerk in Caledon, wat die verrigtinge geopen het; die kunstenaar Jermaine Julies; Liaan King van die Boland-rugbyunie; die span van Nissen Holdings; deelnemende spelers; die bestuur; die veiligheidsmaatskappy; al die beamptes, die plaaslike polisie, die verkeersdepartement, EMS en die burgemeesterskantoor asook die hele TWK wat die toernooi ondersteun het.