Die 17de jaarlikse Canola Run was weer eens ’n reusesukses met ongeveer 230 motorfietsryers tussen die ouderdomme van ses en 64 wat deelgeneem het. Rudi Coetzee, van die Caledon Rapportryers wat die jaarlikse ren organiseer, berig deelnemers het van so ver as Gauteng en selfs Argentinië gekom het. “Deelnemers het omstreeks 09:30 vanaf Lemoenskopplaas vertrek, in die rigting van Boontjieskraal gery, daarna oor die berge in die rigting van Tesslaarsdal en weer terug na Lemoenskop. Die roete wat oor 93 km strek het ongeveer 3-4 ure geneem om te voltooi,” aldus Coetzee. Deelnemers het daarna gesmul aan ’n heerlike bord gebraaide kos en ander verversings. Volgens Coetzee is ongeveer R80 000 met die Canola Run ingesamel. Dié geld sal gebruik word vir verskeie projekte in Caledon wat deur die Rapportryers ondersteun word, onder meer Heidehof en Herberg, die ACVV-dienssentrum en plaaslike skole. “Ons hoofborg was Overberg Agri, en die ander borge was Caledon Casino, SOILL, Agri Protection Services, Rockfox, Ouropack en Heineken. Ons bied weer die Canola Run volgende jaar op die eerste Saterdag van September aan,” het Coetzee gesê. Besoek die Canola Run Caledon en die Caledon Rapportryers Facebook-blaaie vir meer foto’s en video’s. Foto’s:


Canola Run ’n reusesukses

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article